NUUS

#ATKVinEUR: ’n Prins, ’n professor en Parys

Ons het die Week van de Afrikaanse Roman afgesluit soos wat ons dit begin het – die ene avontuur! Ek en Suzie se bagasie het met die gaan in Parys agtergebly ... Met die teruggaan het ek en Suzie in Parys agtergebly. Daar was te veel mense vir ons vlug, maar ’n jongman met ’n mooi Franse aksent het ons darem gehelp om slaapplek en kosgeld te kry ... ons sal binnekort ons fliek, Midday in Paris, bekend stel!

Terug na waar ons in ons vorige blog opgehou het. Ek en Suzie was natuurlik nie net in Nederland nie, maar ons het ons reis ook na België voortgesit. Ons eerste optrede in België was in die administratiewe hoofstad van die Europese Unie, Brussel. Dit was ’n heerlike Afrikaanse middag en aand by die Vlaams-Nederlands Huis voor Cultuur en Debat, deBuren. Ek en Suzie het oor meertaligheid, Setswana en Afrikaans in Soweto gesels. By die geleentheid was daar ook ’n Swahiliprofessor wat aan die gesprek deelgeneem het!

In Antwerpen het dr. Adri Breed, van die Noordwes-Universiteit, met Suzie oor die Afrikaans-in-Sowetoprojek gesels. Die dag is afgesluit met ’n besoek aan die stad en tradisionele frietjes met mayo.

Ek en Suzie was ook eregaste by die tweejaarlikse kongres van Onze Taal. Dit was nie enige hierjy kongres nie – dit is deur 1 500 taalliefhebbers bygewoon, ook deur prinses Laurentien.

Ons laaste dag in Haarlem was eintlik naby aan die huis, want ons was by die TG (goed dis nie die Taalgenoot nie, maar Thrill Grill). Ons reken die foto sal ’n mooi TG-voorbladfoto maak ...

Die tyd het te vinnig verbygegaan en ons moes afskeid van ons nuwe vriende neem. Ons oë was nie net nat van die herfsreën nie.

Dankie, Ingrid Glorie en span! Dit was ‘n wonderlike Week van de Afrikaanse Roman.

Groete uit Parys, Frankryk
Suzie en Karien​

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF