NUUS

Wen ’n nuwe AWS op Internasionale Woordeboekdag

As daar een ding is wat vir Taalgenoot onontbeerlik is,  is dit ’n woordeboek. Daarom kan die redaksie vandag nie anders nie as om Internasionale Woordeboekdag te vier. Die algemene doel van die viering van hierdie dag op 16 Oktober is om mense reg oor die wêreld bewus te maak dat ’n mens eintlik nie sonder ’n woordeboek kan klaarkom nie.

Om hierdie viering nog lekkerder te maak gee Taalgenoot ’n nuwe Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) weg. 

Maar wat is die AWS?

Die AWS is ’n handleiding met taalreëls vir die korrekte spelling en skryfwyse van Afrikaans. Daarom is dit noodsaaklik vir elke taalgebruiker – van leerders tot taalspesialiste. Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bepaal hierdie reëls en stel die AWS saam om te verseker dat daar norme vir die gebruik en voortbestaan van Afrikaans is.

Die eerste AWS het 100 jaar gelede in 1917 verskyn. Dit verklaar die opgewondenheid oor die nuwe AWS wat in Julie 2017 verskyn het waarmee die 100ste herdenking ook gevier is. Op die omslag van die 1917-uitgawe verskyn "woordelys" nog met die Nederlandse spelling naamlik "woordelijs". Die doel met die publisering van die AWS is ook opgesom in ’n ietwat Nederlandse trant: “Vanself dus wil ons sôre dat ons taal in ieder opsig tot sij reg kom.”

Die Taalkommissie hou tred met die groei en ontwikkeling van Afrikaans en die AWS verskyn van tyd tot tyd met uitbreidings en bywerkings. Die vorige AWS het in 2009 verskyn.

Die 2017-uitgawe 
Die 11de uitgawe van die AWS is baie uitgebrei en bevat onder meer die volgende:

•    ’n Woordelys met meer as 34 000 woorde wat spel- en skryfprobleme oplewer. Meervoude, wisselvorme en die verlede tyd word ook gegee.
•    ’n Uitgebreide lys afkortings.
•    Landname en hul inwoners. ’n Inwoner van Panama is byvoorbeeld ’n Panamees.
•    Geldeenhede en elemente in die periodieke tabel. 
•    Plekname in die Ooste. China, wat ook as Sjina geskryf kon word, se spelling is nou net China.
•    ’n Welkome nuwe hoofstuk oor die gebruik van leestekens.
•    ’n Nuwe hoofstuk met trappe van vergelyking.

Nuwighede in die woordelys

Sport
tok, toks, getok, tokkamer, eks-Blou-Bul/-bulle

Woorde uit ander tale
radja, chakra/chakras (of tjakra/tjakras), tjakalaka/chakalaka, breyani/brijani

•    Taalgebruikers kan nou maar praat van beld of belt vir gordel. Meervoud: belde.
•    Jy kan nou ook smul aan vis en tjips  ̶  let net op die spelling: tjips!

Die nuwe AWS (uitgegee deur Pharos) het 800 bladsye, kos R450 en is verkrygbaar by Exclusive Books en Graffiti. Of bel Hevette le Grange by 021 406 3414 of stuur vir haar ’n e-pos.

Om ’n kans te staan om die nuwe Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) te wen SMS* "TG AWS" na 44131. Onthou om jou naam en posadres in jou SMS in te sluit. Die kompetisie sluit Maandag 23 Oktober om 12:00. 

* Standaard SMS-tariewe geld.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF