NUUS

Toekomsrus se mense nou rolprentsterre

Toekomsrus, naby Randfontein, een van die oudste bruin townships in Suid-Afrika het “’n groot storie” om te vertel en te danke aan die ATKV-tak Toekomsrus gaan dit nou gebeur.

Toekomsrus ons erfenis, ’n onafhanklike rolprent, is die storie van ontworteling in die 1970’s na aanleiding van die Wet op Groepsgebiede van 1950 en vertel die verhaal van ’n getroude paartjie wat neergegooi word op vervloekte grond in ’n lokasie met die naam Toekomsrus.

Vir Jacelyn (Xenia) Kok is die fliek ’n droom wat ná meer as twee jaar se harde werk waar geword het.

“Die ATKV se algemene jaarvergadering by Goudini in 2015 het iets in my losgemaak oor erfenis,” vertel Jacelyn, wat een van die takafgevaardigdes was wat daardie jaar die AJV bygewoon het. 

“Ek het teruggekom en vir my tak alles vertel wat ek daar gehoor het en ons het besluit om ’n rolprent te maak.”

Die tak het skouer aan die wiel gesit en begin om onderhoude met die mense van Toekomsrus te voer, navorsing oor die gebied te doen en aan die draaiboek begin skryf. “Ons het geweet ons het ’n goeie storie om te vertel en jy weet mos die beste manier is ’n movie.”

Die tak wat hoofsaaklik uit skrywers bestaan, het egter besef dat om ’n rolprent te maak meer verg as ’n goeie draaiboek en het by die Kofifi-mediagroep vir hulp gaan aanklop en ’n vennootskap is gesluit. 

Oudisies in Toekomsrus het die gemeenskap in rep en roer gehad, want die geleentheid om jou lyf akteur te hou kom nie te gereeld verby nie. “Dis rou talent, maar ons wou die mense in die gemeenskap die geleentheid gee om self hul storie te vertel.” Die “akteurs” het onder meer opleiding by ouddramastudente en dramaonderwysers gehad.

Jacelyn (foto links), wat ’n groot deel van die rolprent self finansier, sê dat die rolprent vir haar verskriklik baie beteken. “Ek het nooit geweet die plek waar ek grootgeword het, het so ’n groot storie nie. Ons moet erken wat hier gebeur het en generasies ná my moet weet van die mense wat hier gebly het, want dis al hoe ons ’n beter Toekomsrus sal kan bou.”

Die rolprent word op Saterdag 11 November 2017 om 12:00 die eerste keer by die Da Side Venue, Fiatstraat 14, Aureus, Randfontein, gewys. Toegangsgeld is R70 vir volwassenes en R40 vir kinders jonger as 13 jaar. Daar sal ook stalletjies met kunswerke, handwerk, kos en drankies wees.

Vir meer inligting kontak vir Jacelyn Kok by 083 436 3037.

Besoek die rolprent se Facebookblad hier.
 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF