NUUS

Taalgenoot: Wen geskenkpak van 12 kinderboeke

Kinderboeke2

Kersfees is om die draai en jy krap seker al klaar kop oor wat se geskenke jy vir die kleingoed kan koop. Taalgenoot het dit vir jou maklik gemaak en die nuutste kinderboeke uitgesoek wat vir jou (en die kinders) heerlike leesgenot sal verskaf.

Zok en die vlieënde dokters
Julia Donaldson
R150

Ontmoet die vlieënde dokters wat kwale reg kan maak: ’n ridder en ’n prinses en Zok – die dapper draak. Prinses Mynie se oom sluit haar in ’n toring toe omdat hy nie dink prinsesse kan dokters wees nie – tot hy die dag self siek word! Die arme koning se gesig word oranje van ’n seldsame siekte – sal die drietal dokters hom te hulp snel?


Oupa se eiland
Benji Davies
R150

Simon kuier graag by sy oupa vir wie hy baie lief is. Eendag toe hy daar kuier, wys Oupa vir hom ’n swaar deur op die solder wat, sodra jy daardeur stap, op die dek van ’n groot skip beland. Oupa en Simon seil saam na ’n wonderlike eiland waar hulle allerhande mooi dinge ontdek en ’n huisie bou. Toe hulle moet terugkeer, besluit Oupa egter om te bly. Hierdie boek vertel ’n mooi, maar hartseer storie op ’n avontuurlustige manier oor hoe kinders ’n geliefde grootouer groet, hetsy dit vir altyd is of tydelik.

Paul & Vlekkie
Claire Friedman & Kate Hindley
R150

Paul en sy ouers het onlangs van die platteland na die groot stad getrek. En al is die stad vol mense en bedrywigheid, is Paul eensaam. Op ’n dag gaan stap hy in die reën en kom op ’n klein hondjie af wat verdwaal is. Hy soek die eienaar van die hondjie, maar kry niemand en besluit om Vlekkie huis toe te vat. Hulle word groot vriende, maar Vlekkie mis sy basie, veral teen slaaptyd. Paul weet dis die regte ding om Vlekkie se eienaar te soek, al wil hy nie die hondjie verloor nie. Maar om die regte ding doen bring vir Paul onverwagse geluk…

Die voëlverskrikkertroue
Julia Donaldson
R150

Bettie van Riet en ou Stokkies van Graan
het reg langs mekaar in die weiland gestaan.
Hul was lief vir mekaar en wou graag trou,
maar hy moes haar eers red van ’n ander ou!

Terwyl Stokkies van Graan alles vir die bruilof in orde probeer kry, neem Albertus van Hooy sy intrek op die weiland … Albertus probeer Bettie se hart wen met sy sierlike maniertjies en sy Kubaanse sigare, maar strooi en sigare is nie ’n goeie kombinasie nie! Sal Stokkies van Graan betyds terug wees om sy liewe Bettie te red?

Die dapper muis
R80
Die dapper muis spog dat hy bang is vir niks! Maar wat van ’n kat ... en ’n uil ... en ’n valletjie? Hierdie prettige prenteboek is gebaseer op een van die bekendste en mees geliefde Afrikaanse kinderliedjies, “Die dapper muis”.

Viskos
Jaco Jacobs
R110
Wat sal jy doen as ’n boelie jou goudvis in die skool se toilet afspoel? Dit is presies wat met Dennis gebeur. Gelukkig kry hy sy goudvis terug. Maar iets is nie reg nie ... Daar wag ’n GROOT skok op die hele skool toe Dennis se goudvis begin groei en groei en GROEI! Kort voor lank is selfs die weermag op die toneel. Dennis is die enigste een met ’n plan om ’n ramp te voorkom ...

Die eensame krokodil
R80
Die arme krokodil se hart is seer – hy is só alleen! Maar is jy dapper genoeg om saam met hom in die water te klim? Hierdie prettige prenteboek is gebaseer op een van die bekendste en mees geliefde Afrikaanse kinderliedjies, “Die eensame krokodil”.

Die lappop
R80
Die arme lappop beland op ’n ashoop saam met ’n vrot pampoen en ’n stukkende skoen – maar dan word sy as die ashoopkoningin gekroon! Hierdie prettige prenteboek is gebaseer op een van die bekendste en mees geliefde Afrikaanse kinderliedjies, “Die lappop”.

Bennie Boekwurm se tonnelhuisie
Louise Smit
R140
Elke dag trek Bennie Boekwurm sy swaar waentjie vol boeke na die parkie om vir die kinders te gaan stories lees. Mokkie Mol met sy  sterk pote kom hom help. Maar Mokkie kan nie mooi sien nie en boems-kadoems! loop hy in ’n boom vas. Karra-kaparra! kantel die waentjie om en al die boeke val uit. En boonop is Bennie se bril nou skoonveld!

Krappie en die kroon
Fanie Viljoen
R140
Krappie is vir niks bang nie. Maar wanneer hy skarrel om ’n blink ding doer op die rotse te gaan ondersoek, word hy weggespoel in ’n wilde onderwater avontuur! Die koning van die krewe se kroon is weg en Krappie is in groot moeilikheid. Gelukkig ontdek hy dat met 'n bietjie vertroue in ander, vriendskap soms op onwaarskynlike plekke te vind is.

Karel Kraai se kitaar
Louise Smit
R140
Mamma Kraai weet haar kuiken het 'n spesiale musiektalent. Hy kan fyn luister en allerhande geluide naboots. Hy sing dag en nag “Ha-ha-a-a-aa!" soos Hadeda, soos Jangroentjie "Tji-tji-tjoe!" en soos Duif "Koekeroekoe!". Dit laat al die voëls se koppe draai. Hulle ken nie meer hulle eie geluide nie! Die hele bos is deurmekaar. Mamma Kraai besluit hulle moet trek en 'n plek gaan soek waar niemand ooit weer oor haar Kareltjie se musiek sal kla nie.

Sarel Seemonster se avontuur
Louise Smit
R140
Sarel Seemonster is lus vir avontuur. Maar voordat hy vertrek, waarsku sy ouma Seemonster: “Onthou, as jy in die moeilikheid is, het jy ’n wapen. Seemonsters blaas stoom uit en dit laat diere dink daar is vuur binne ons.” Sarel se stoom borrel en gorrel die lug in. Maar wat gaan gebeur as hy 'n skelm wolf, 'n slang en 'n aasvoël teëkom?

WEN!
Taalgenoot gee ’n pak van 12 kinderboeke weg van verskeie uitgewers. SMS ‘TG Kinders’ en jou naam, van en posadres na 44131. Die kompetisie sluit op 17 November.

* Die geskenkpak bevat nie noodwendig die boeke wat hierbo gelys is nie.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF