NUUS

Jong kitaarspeler kan nou danksy die ATKV verder studeer

Tydens die oorhandiging van die ATKV se Albert-Engelprys was van links dr. Pieter Grobler, hoof van die Stellenbosch-konservatorium, Brent January, Ilse Schurmann van die ATKV en Felicia Lesch van die US se musieksertifikaatprogram.

Die 19-jarige Brent January se drome was aan skerwe toe hy einde 2016 moes hoor dat hy nie aanvaar is om ’n graad in musiekuitvoering aan die Universiteit van Kaapstad te studeer nie. Min sou hy weet dat hy ’n paar maande later die ATKV se Albert Engelprys sal ontvang en hy hom eersdaags vir ’n graad in musiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) sal kan inskryf.

Die ATKV se Albert Engelprys, genoem na  Albert Engel, die eerste heeltydse koperblaasdosent by die US-musiekdepartement, gee jaarliks aan ’n belowende, talentvolle student wat ’n musieksertifikaatprogram aan die US voltooi het en nie die geld het om verder te studeer nie, die geleentheid om sy/haar musiekdrome waar te maak.

Brent was een van die studente wat aan die sertifikaatprogram deelgeneem het wat talentvolle musici sonder enige formele opleiding die geleentheid bied om hul teoretiese en praktiese kennis uit te bou totdat hulle gereed is om verder te studeer.

Studente word vir die ATKV se Albert Engelprys benoem op grond van hul harde werk. Hulle moet dan ’n motiveringsbrief skryf waarin hulle hulself aan ’n paneel bemark, en ook hul werke vir ’n keuringspaneel speel.

Brent skryf in sy brief dat hy die kitaar al vyf jaar lank speel. “My liefde vir musiek het in die hoërskool begin. Aan die begin was my enigste motivering om goeie punte te behaal, maar ná ’n jaar het dit nie meer soos huiswerk nie, maar eerder soos pret gevoel.”

Brent droom daarvan om ’n musiekonderwyser te word en as inspirasie te dien vir die volgende geslag musici. “Ek kom uit ’n huishouding waar net een ouer werk. Geld is daar nie en ons moet staatmaak op die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NFSAS) vir ’n lening. So dié prys is vir my goue geleentheid en ek sal vir ewig dankbaar wees vir die mense wat my benoem het.

“Dis vir my ’n reuse-voorreg dat die persone wat my benoem het, iets in my raaksien wat hulle herinner aan Albert wat ’n wonderlik musikus met ’n uitstaande werksetiek was en wat ook vir sy gemeenskap omgegee het.”

Brent het ná die oorhandiging van die prys sy dank teenoor die ATKV, die Universiteit Stellenbosch en Felicia Lesch van die US se musieksertifikaatprogram, uitgespreek. “Die prys beteken vir my die wêreld. Ek sal bewys dat ek hierdie prys verdien deur volgende jaar en die res van my musiekloopbaan nog harder te werk.”

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF