NUUS

ATKV-Rieldansers roep die reën tydens die 2017-finaal

Daar is Saterdagaand tydens die finaal van ATKV-Rieldans nie net gedans om as die beste stofmakers van 2017 gekroon te word nie, maar ook vir reën.

Om die gehoor van 4 000 mense ’n geleentheid te gee om hulle sitplekke in die amfiteater van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl in te neem, het HemelBesem, wat een van die aanbieders was, vir deelnemers gevra waarom die riel belangrik is.

Een van hulle het dadelik genoem dat die San destyds vir reën gedans het.

Benjamin Bock, die bestuurder van Erfenisprojekte by die ATKV, het dadelik gereageer. "Mense hier is wolke in die lug en ons het reën nodig, maar julle moet asseblief vanaand mooi bid. Ons sou darem graag die finaal wou klaarmaak voor die reën kom!”

Benjamin is ’n diep gelowige mens. Menige ander gelowiges sou ook baie later daardie aand na die hemele gekyk het om dankie te sê, want die stof het woes gestaan tot en met die laaste danspassies terwyl die trofeë oorhandig is. Toe, terwyl die groot gehoor besig was om in hulle motors te klim, het die eerste druppels van seën oor die droë aarde begin val.

Vir die res van die nag het dit aanhoudend oor die droogtegeteisterde Wes-Kaap gereën.

Altesaam 15 spanne het sake in drie verskillende kategorieë uitgespook. Die kompetisie word elke jaar strawwer en diegene wat gereeld die finaal bywoon, kan sien hoe die spanne tegnies al hoe beter word.

Daar, in die stof, is die volgende wenners aangewys.

Die beste Rieldansers van 2017

Beste vroulike danser o.14: Elvona Duiker van die G.B. Batt-Stofskoppers

Beste manlike danser o.14: Jean-Pierre Minaar van die G.B. Batt-Stofskoppers

Beste vroulike danser o.20: Luwandri Schrader van die Brandvlei-Stofskoppers

Beste manlike danser o.20: Alberto Booysen van die Griekwa-Knersvlakterieldansers

Beste vroulike danser in die senior afdeling: Catherine Ockhuys van die Boesmanland-Bitterbessies

Beste manlike in die senior afdeling: Warren Witbooi van die Boesmanland-Bitterbessies

Die wenners in die musiekafdeling

Beste liedjie: Karoneshia Nel van die Uitsig-Stoftrappers

Beste musikant: Gertruida Lombaard van die Boesmanland-Bitterbessies

Beste kitaarspeler: Danie Hanse van die Calvinia-Sitstappers

Die rieldanspersoonlikhede van die 2017

Mej. Rieldanspersoonlikheid (junior): Anisha Kotzé van die Betjies van Betjiesfontein

Mnr. Rieldanspersoonlikheid (junior): Keanwill van Wiellig van die G.B. Batt-Stofskoppers

Mej. Rieldanspersoonlikheid (senior): Gertruida Mars van die Witzenberg-Rieldansers

Mnr. Rieldanspersoonlikheid (senior): Bernard Fisher van die Calvinia Sitstappers 2

Die trofeëwenners in die onderskeie afdelings

Elkeen van hierdie spanne het ’n trofee gekry vir hulle deelname.

Junior Rieldansers, o.14

Eerste plek: G.B Batt-Stofskoppers

Tweede plek: Griekwa-Hiënas

Derde plek: Betjies-Rooistomprieldansers

Vierde plek: Uitsig-Stoftrappers

Junior Rieldansers, o.20

Eerste plek: Griekwa-Knersvlakterieldansers

Tweede plek: Betjies van Betjiesfontein

Derde plek: Brandvlei-Stofskoppers

Vierde plek: Calvinia-Sitstappers

Senior Rieldansers

Eerste plek: Boesmanland-Bitterbessies

Tweede plek: Calvinia-Sitstappers 2

Derde plek: Betjies-Rooirotsrieldansers

Vierde plek: Witzenberg-rieldansers

 

 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF