NUUS

Jodi Jantjies: My hakkel maak my spesiaal



Jodi Jantjies is ’n klein mensie. Sy is boonop nog bloedjonk, maar ’n kragtoer op die verhoog. En tog, het Jodi ’n baie groot uitdaging. Sy hakkel. En dis nie effens nie, Jodi hakkel erg. Maar wanneer sy begin sing, is daar van hakkel geen sprake nie. 

“Dit gaan mal in my kop as ek moet praat,” sê Jodi. “Ek kan dit voel aankom. Ek weet wanneer die hakkel kom, dan moet ek vinnig ’n sinoniem soek.”

 

Wanneer sy Saterdagaand – as deel van die ATKV-Crescendo-musiekfees – op die verhoog by ATKV-Goudini Spa gaan klim, gaan honderde mense aan haar lippe hang. 

Jodi, die jongste lid van die ATKV-Crescendo-span, is by ATKV-Goudini Spa om as mentor op te tree vir die Shoprite All Stars, ’n projek van Mynie Grové wat met ATKV-Crescendo hande gevat het.

Die Shoprite All Stars is almal mense wat vir Shoprite werk. Party is kassiere en ander is pakkers, maar een keer per jaar gaan soek Mynie Grové die beste stemme uit dié groep Shoprite-werknemers. 

Die interessante ding is dat die “mal” in Jodi maak dat sy soms van een taal na die ander oorslaan sonder dat sy dit agterkom. 

Sy is so suksesvol dat ATKV-Crescendo vir haar voorgestel om voor te sing wanneer “Ma Grové” (Mynie se bynaam) se All Stars op die verhoog klim. “Ek was baie verbaas,” vertel Jodi. “Ek het gedink my tyd saam met Crescendo is verby, maar hier is ek!”

Sy vertel dat sy voor ATKV-Crescendo baie skaam was: “Ek was op ’n pad sonder rigting.” Toe daag haar Afrikaansonnie haar uit om in te skryf vir die ATKV-Liedjieskryfskool, wat die onderbou van ATKV-Crescendo is.

Morne van Staden, ATKV-projekorganiseerder van ATKV-Crescendo, vertel dat toe Jodi by die eerste oudisie opgedaag het, sy so gehakkel het dat sy nie met die beoordelaars kon praat nie. Sy moes alles neerskryf wat sy wou kommunikeer. Maar toe begin sy sing.

Die res is geskiedenis.

Jodi hakkel steeds, maar ná ’n jaar as deel van ATKV-Crescendo is sy só selfversekerd dat sy glad nie meer wegskram nie. Crescendo het haar lewe verander, vertel sy. Dit het haar geleer dat haar hakkel haar spesiaal maak.

Almal weet nou al: “Jodi is daai meisie met die hakkel.” 

Jodi voel dat haar spraakprobleem haar help om ander te help. As sý dit kan maak, dan kan ander ook. Die span van ATKV-Crescendo het haar op daardie pad geneem. “Almal het op ’n manier ’n geestelike kant gehad hierdie jaar. Almal. Ek het by almal iets geleer.”

Sy bly stil.

“Ek verloor myself op daardie stage. Ek wil vir mense sê: Sukses is nie oor jou ouderdom nie. Dit gaan oor dit wat binne jou is. Met God aan mý kant, is alles moontlik. Ek sal graag dit vir ander wou beteken.”

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF