NUUS

Danny Titus: Ons sal die pad van versoening moet stap

Dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur by die ATKV, besin oor Versoeningsdag en die rol wat dit kan speel vir ’n beter Suid-Afrika.

Dis moeilik om te glo dis alweer Versoeningsdag. Ons land is so gepolariseerd, die wêreld veel meer in skerp kampe. Vrede op aarde en in die mense ’n welbehae, klink soos ’n klinkende stuk metaal. Dit bly aanvalle, aanslae, sterftes, brande, hongersnood en droogtes. Dan reën dit weer in oorvloed in die res van die land en in die Wes-Kaap bly die reëntjies gruwelik weg.

Ons lewe nou eenmaal in ’n wêreld van teenstrydighede, die een regeer en die ander ontbeer, die een in oorvloed en die ander moet met veel, veel minder klaarkom. In die naweek waarin die Versoeningsdag val, kry die land dalk ’n nuwe leier. Iemand wat genadiglik die huidige verval sal stuit. Of dalk tog ook nie.

Die ANC as politieke party wat ons heersende party is, is so intens verdeeld dat ’n mens jou asem ophou. Dit is glad nie oordrewe om te dink aan die ergste wat kan gebeur as die verdeeldhede nie hanteer kan word nie. Gaan die weermag hulle hou aan die uitslae, aan watter kant gaan die polisie hulle skaar? Gaan die ANC uitmekaar spat? Dan wat? Of mag ons steeds vra vir versoening in ons land?

Ons versoening het so ’n lang pad gekom en op soveel terreine het mense met mekaar versoen. Die geskeide verlede is oorkom, die wonde van die verlede is steeds daar, maar die felheid, die kruheid, die wreedheid is weg. Nou het gierigheid, korrupsie en arrogansie oorgeneem.

Steeds is daar Suid-Afrikaners wat versoen, wat hul vingers stomp werk aan versoening. Steeds is daar mense wat bid en glo dat die wonderwerk van versoening ook die huidige afvalligheid sal omvou. Dat die donker wolke sal verdwyn. Dit is juis die rol van versoening: om skynbaar onversoenlikes en onversoenlikheid bymekaar te bring. Suid-Afrika het 'n wesenlike ervaring daarvan, ons het dit gedoen en ons pluk steeds die vrugte daarvan.

Vir jonger Suid-Afrikaners is dit moeilik om te verstaan, van hulle bevraagteken dit selfs. Miljoene Suid-Afrikaners weet net van die huidige bestel. Baie wil nie weet van ’n vorige bestel nie. En tog, dit is waar ons land se vingerafdrukke van versoening steeds lê. Vrede op aarde en in die mense 'n welbehae, hét wel op Suid-Afrika neergedaal.

Dit is vir my die hoop uit die huidige moerasse, die haat en die nydigheid: ons hét dit gesmaak, ons land het beter geraak, ons ekonomie het versterk. Die roekelose gierigheid van vandag, die gemaksugtige korrupsie in die staat en ook in die private sektor, die verbreking van wette en reëls en orde met 'n roggelgelag uit die maag, dit sal alles wegvaag, ons land sal beter word, die misdadigers sal agter tralies kom. Ons sal die pad van versoening moet stap, want ons glo, en ons bid, en ons weet, ons sal weer daar kom.
 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF