NUUS

Kortverhaalbundel oor die liefde los stof tot nadenke

Hartlam2Op die voorblad van Hartlam – saamgestel deur Gerda Taljaard en Deborah Steinmair – staan die volgende geskryf: “Die liefde verdra alles, maar die liefde het dikwels tande.”

Daar is nie ’n beter aanhaling wat hierdie kortverhaalbundel sou kon opsom nie. Met die eerste oogopslag (sonder om die illustrasie op die voorblad in ag te neem) kan die leser die indruk kry dat hierdie net nog ’n bundel oor die liefde tussen man en vrou is. Toe nie, hierdie bundel is gevul met onvoorspelbaarheid en ’n goeie skoot realiteit. Die liefde gaan dikwels nie oor die gelukkige einde nie, maar die gebroke harte en verlange na die gelukkige begin.

Taljaard en Steinmair het daarin geslaag om 42 hartroerende kortverhale saam te stel en spog met verhale deur onder andere Kerneels Breytenbach, Joan Hambidge, Jaco Jacobs en Martin Steyn.

Net soos die illustrasie op die voorblad, is die leser die afloerder op verskillende liefdesverhale – romantiese liefde, vriendskaplike liefde, verbode liefde, familieliefde, liefde tussen persone van dieselfde geslag en selfliefde. Daar word deurentyd in die boek ’n goeie balans tussen verhale uit die “ou dae” en moderne verhale gehandhaaf.

Verhale van hartseer, obsessie, ontnugtering en jaloesie sal vir seker dat hierdie nie net nog ’n boek vol soetsappigheid is nie.

Of die leser nou wil ontspan of graag iets dieper en betekenisvol wil lees, hierdie bundel is ’n treffer. Die beskrywings en karakters is eg en elke verhaal sal die leser los met iets om oor na te dink. Koos du Plessis se woorde “die liefde is ’n dubbeldoor – iets te wen en iets verloor” is ’n raak beskrywing vir hierdie kortverhaalbundel. Lekker lees. – Mandie Ehlers

* Hartlam word deur Tafelberg uitgegee en is by uitgesoekte boekwinkels teen R250 beskikbaar. Klik hier om die boek te bestel.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF