NUUS

Stroomop: ’n rubberbootjie vol gate

Donnalee Roberts en Ivan Botha is die kragpaartjie van die Afrikaanse rolprentbedryf.

Hulle rolprente hark miljoene rande in. Die romantiese avontuurfilm Vir Altyd het in slegs vier weke R13,4 miljoen aan dié paartjie besorg.

In sy eerste naweek het 89 731 mense die fliek gaan kyk.

Op 9 Augustus begin Donnalee en Ivan se nuutste rolprent op die grootskerm draai. Met sterk vrouekarakters wat groot uitdagings moet oorkom, is dit poëties dat dié fliek juis op Vrouedag sy buiging gaan maak.

Ons moet egter gou vir ’n oomblik diep besin oor dié fliekmakers se kreatiewe lisensie om louwarm stories met gate groter as ’n verwaarloosde hospice-truitjie aan kykers op te dis.

Tydens ’n swierige première in Johannesburg het die room van die vermaaklikheidsbedryf, sowel as die media, by Montecasino opgedaag om hierdie “kragtoer” te kom kyk.

Tydens Donnalee se toespraak voor die rolprent het sy die volgende gesê:

“Wat vir ons as storievertellers bitter belangrik is en waarvoor ons onbeskryflik dankbaar is, is mense se tyd...

“As die publiek vir ons twee uur van hulle tyd kan gee om die fliek te kom kyk, dan is dit ons verantwoordelikheid om vir hulle waarde te gee.”

Helaas, het Donnalee, wat voor die skerm gewerk het, en Ivan, wat in die regisseurstoel gesit het, gefaal om waarde vir hulle lojale aanhangers te gee.

Stroomop handel oor vyf uiteenlopende vroue wat deur Donnalee, Simoné Nortmann, Chanelle de Jager, Ilse Klink en Carla Classen gespeel word.

Al vyf beleef uitdagings ten opsigte van hul werk, kinders grootmaak, gewigskwessies, depressie, verlies en teleurstelling.

In ’n desperate poging om genesing te vind bevind die vroue hulleself op die Oranjerivier vir avontuurterapie, voorgeskryf deur ’n selfhelpgroep.

Tydens die avontuur lei wrywing tussen die vroue – wat elkeen om hul eie verskuilde en selfsugtige redes saamgekom het – tot ’n ongeluk. In ’n spanningsvolle oomblik word die gids (Armand Aucamp) en die vroue van die roeiboot afgegooi. Die gids spoel weg en die vroue word aan hulself oorgelaat om in die genadelose wildernis te oorleef.

Die rolprent se openingstoneel is die malende waters van die Oranjerivier, ’n voorspooksel van die nagmerrie wat hulle wag. 

Die kyker bevind hom/haar in die volgend toneel in die hospitaal waar dr. Lana Marais (Donnalee) ’n dubbele skof gewerk het. Sy wroeg met die dood van haar pa en haar werk ly daaronder.

Vivian (Simoné) bevind haarself in ’n hospitaalbed waar sy pas haar eie polse probeer sny het. In ’n roerende toneel kom dr. Lana agter dat niemand nog vir Vivian kom kuier het nie en sy sit vir haar blomme langs haar bed neer. ’n Slim manier van Ivan om die karakters onwetend reeds kontak met mekaar te laat maak.

Ma en dogter, Diona (Ilse Kink) en Nixie (Carla Classen), wroeg met die dood van hul man en pa en hulle verhouding ly daaronder, terwyl Adrie (Chanelle De Jager) met haar gewig en selfbeeld sukkel.        

Uit die aard van die saak het Ivan meesterlik die vrouetema deurgevoer en die karakters goed beplan sodat baie vroue by dié sterk karakters sal kan aanklank vind.

Ongelukkig het die fliekmakers beslis nie stroomop met dié rolprent geswem nie, maar eerder rustig met die Sun City se Lazy River afgedobber.

Die storielyn is een wat vir eerstejaarfilmstudente geleer word. Daar is ’n begin, ’n wending, ’n ontknoping en ’n gelukkige einde – so asof hulle van ’n vasgestelde raamwerk af gewerk het.    

Voeg daarby ’n hele paar feitefoute en jy het nie ’n bootjie wat op kalm waters dobber nie.

Die vroue het by die toergids gehoor daar is blykbaar boere noord van die rivier. Met ander woorde weg van die water af en hulle besluit om daar tussen die klowe en semiwoestyn in te wandel. Indien daar genoegsame navorsing gedoen is, sou die regisseur geweet het indien jy verlore is, moet jy saam met ’n rivier stap om by samelewing uit te kom. Boere sal ook hulle plase langs ’n rivier vestig omdat water immers na die landerye gelei moet word.

Ek is nie ’n Bear Grylls nie, maar ek weet jy begeef jou nie blindelings in ’n semi-woestyn nie.

Ná sowat 20 minute in die rolprent moes die arme siele ’n pofadder eet en gebarste lippe en dehidrasie trotseer. Hulle besluit om maar tog na die rivier terug te keer.

’n Sinnelose oefening en 20 minute wat min tot die storielyn bygedra het.

En toe gebeur die onmoontlike.

Toe dié vyf uiteindelik weer by die rivier uitkom en die donker moet trotseer, is daar ’n geluid wat deur die stil Noord-Kaapse aandlug skeur. 

Die karakters is vreesbevange en word later in die storie langs die oewer deur sowat ses van dié dierasies geteister sodat hulle moet vlug.  

My oë het so groot soos pierings gerek. My rug het styf gespan. Ek het na my asem gesnak en verontwaardig vir myself gefluister: “Dit kan nie wees nie. Hiënas! In die Noord-Kaap? Langs die Oranjerivier? Nee!”

Om dubbel seker te maak van my argument het ek ’n bekende natuurkenner, wat al sy eie natuurprogram op kykNET gehad het, geraadpleeg.

“Ek sou dit as hoogs onwaarskynlik beskou dat ses jou sommer by die Gariep sal aanval. Hulle is nie volop nie en word deurlopend deur die boere platgeskiet.”

Die produkplasing in die rolprent is so subtiel soos ’n atoombom. Afrikaanse rolprentvervaardigers moet ’n bietjie by hul oorsese eweknieë gaan leer.

Met reusebedrae vir ’n reklameveldtog om die rolprent te bemark en ’n vrouetydskrif wat agter dié paartjie staan, is dit ’n gegewe dat Stroomop ook ’n reusesukses by die loket gaan wees. Maar is dit regtig waarde vir geld?

In die dolle gemaal van kaf wat die rolprentteaters oorstroom en die hoë standaarde wat ander Afrikaanse rolprente soos Wonderlus stel, is dit teleurstellend om agter te kom dat dié rolprent ’n rubberbootjie vol gate is en sy insittendes stadig na ’n watergraf op pad is. – Jacques Myburgh       

 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF