NUUS

ATKV-AbbAsorg wil kinders leer om met selfvertroue te lees

AbbAsorg, die sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram van die ATKV, probeer voortdurend om ’n verskil in jong lewens te maak en daar is geen beter manier om ’n kind te help brei en vorm as om hulle te leer lees nie. 

Daarom woeker ATKV-AbbAsorg met ’n leesprogram in sy sentrums. 

Twee van hierdie sentrums, Boskabouters en Pinocchio, wat albei in Hartenbos geleë is, spog met uitstekende resultate. 

“Ons probeer toenemend om kinders te help om hul beste self te word,” sê Herna Adams, AbbAsorg-koördineerder by die ATKV. 

“Ons kry een keer ’n week iemand van die gemeenskap om vir die kinders stories voor te lees.” 

Hierdie projek staan nog in sy kinderskoene, maar Herna voorspel dat dit van krag tot krag sal gaan. 

“Ons beoog om die gemeenskap te betrek – veral leerders, asook volwassenes, wat lief is vir lees. 

“Vir die kinders wat dit moeilik vind en sukkel om te lees, wil ons ook graag voorsiening maak sodat die kind uiteindelik met trots ’n boek kan vashou en met selfvertroue kan lees.” 

Volgens Nicolette Oerson van ATKV-AbbAsorg Boskabouters, is dit vir haar ’n plesier om te sien hoe die kinders die leesprojek geniet en terselfdertyd groei. 

“Hulle geniet dit baie, veral rolspel en dramatisering,” sê sy. 

“Die kinders geniet dit baie om self in die biblioteek te gaan sit en deur storieboeke te blaai.” 

Volgens haar is daar kinders in graad vier en graad vyf in die gemeenskap wat steeds nie kan lees nie. 

“Daar is ’n groot behoefte vir ’n naskoolse leesprojek en die kinders is ywerig om te begin lees.” 

Volgens Herna is daar ’n behoefte aan hulpmiddels soos kinderboeke, handpoppe, poppekaste en storiekaarte om die leesproses vir die rakkers boeiend en interessant te maak. 

Indien jy ’n skenking wil maak, kan jy vir Herna Adams by HernaA@atkv.org.za e-pos of haar by 011 919 0204 skakel. 

Nog ’n manier hoe jy ATKV-AbbAsorg kan ondersteun, is deur jou Woolworths MySchool-kaart. 

Indien jy belang stel, besoek die volgende webwerf om vir ’n My School-kaart te registreer. Elke keer wat jy by deelnemende winkels koop, sal ’n persentasie van die koopbedrag aan bv. AbbAsorg geskenk word. 

Indien jy reeds ’n My School-kaart het, kan jy hier klik om AbbAsorg as ’n begunstigde by te voeg of jou naaste Woolworths besoek en ’n vorm voltooi. AbbAsorg word onder "ATKV" as ’n begunstigde gelys.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF