NUUS

'Danksy ATKV-Postmatriek weet ek wat ek volgende jaar wil doen'

Vir die afgelope agt maande het skoolverlaters by ATKV-Postmatriek aan hul toekoms gebeitel en vir baie is die onsekerheid wat ná skool gekom het, nou vergete. 

Dié tien maande lange wegbreekjaar gee vir jongmense die geleentheid om aan hul toekoms te bou en terselfdertyd waardevolle vaardighede aan te leer wat vir hulle in die werksplek sal baat. Die program word by ATKV-Drakensville aangebied. 

“Dit is ’n avontuurgedrewe jaar waar hulle die geleentheid kry om aan verskeie loopbane blootgestel te word en om ook danksy skaduwerk eerstehands kennis op te doen,” vertel Sylvester Smith, een van die programkoördineerders van ATKV-Postmatriek. 

’n Hele paar van dié jaar se Postmatrieks sê die laaste agt maande het hulle gehelp om hul pad vorentoe te karteer en dat hulle ’n goeie idee het wat hulle volgende jaar wil doen. 

“Ek was voor Postmatriek baie onseker oor wat ek wou doen,” sê Jarryd van Dyk (regs op foto) van Durban. 

“Ek het vir my ma gesê ek wil ’n gapjaar doen en toe sien ons op Ontbytsake op kykNET ’n insetsel oor Postmatriek.” 

Sedert Jarryd hom in Februarie by Postmatriek aangesluit het, het hy heelwat oor homself geleer. 

“Dit het my sielkundige voorberei op die grootmenswêreld wat op my wag. 

“Dit het my buite my gemaksone geplaas en my as’t ware geleer om in ’n span te werk.” 

Vandag weet Jarryd presies wat hy wil doen. 

“Ek wil volgende jaar argitektuur gaan swot. Ek is mal daaroor om dinge beter te maak en goed te ontwerp.” 

Tania Linde, nóg een van die Postmatrieks, kan nie uitgepraat raak oor haar jaar nie. 

“Ek kan dit vir enigeen aanbeveel,” sê sy. 

“Ek het so baie van myself geleer en wonderlike vriende ontmoet.” 

Nie net het hierdie jaar haar geestelik uitgedaag nie, maar ook fisiek. 

“Ons het een aand ’n soort oorlewingsaand gehad waar ons tot die volgende oggend by die Sterkfonteindam moes bly.

Dit het nogal my uithouvermoë getoets.” 

Tania sê sy wil volgende jaar onderwys of bemarking gaan studeer. 

“Ek is nog nie seker waar ek dit wil gaan swot nie, maar ek oorweeg om Potch toe te gaan.

“Ek dink nie ek sou sonder ATKV-Postmatriek die positiewe gesindheid gehad het wat ek nou het nie.” 

Vir meer inligting oor ATKV-Postmatriek besoek www.atkvpostmatriek.co.za. Een gelukkige besoeker aan die webwerf staan ’n kans om ’n databondel ter waarde van R1000 te wen.


 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF