NUUS

Uittreksel: Al wat oorbly deur Santie van der Merwe

SantieSantie van der Merwe, skrywer van "Gelyke kans" en "Vandat jy weg is" se nuutste boek, "Al wat oorbly", is nou beskikbaar. Santie was al twee keer ’n finalis vir die ATKV-Woordveertjieprys vir die beste liefdesromans. Hier is ’n uittreksel uit dié nuwe boek.

’n Teken van die tye

Julia word stil toe Wynand se arms van agter om haar gaan. Sy laat toe dat hy sy ken in haar hare laat sak, draai willoos om, teen sy breë bors vas.

Hy kreun. “Julia. Ek kan nie sonder jou nie.” Sy weet sy kan ook nie sonder hom nie. Maar hulle sal ’n manier moet vind, sonder mekaar. Sy draai uit sy omhelsing. “Moenie, Wynand.”

Hy vat haar aan haar boarm, probeer haar terugtrek na hom toe. “Julia . . .”

Sy ruk los uit hulle vreemde tango. “Wynand. Ons het hieroor gepraat.”

“Daar moet ’n oplossing wees.”

“Daar is nie. Kry dit in jou kop. En jy kan nie net tydig en ontydig hier by my inloop nie. ’n Slot. Sorg dat daar ’n slot aan die hekkie is wanneer ek terugkom.” Sy beduie na die hekkie wat haar tuin van sy agterplaas skei.

“Waar gaan jy heen?”

“Ek en Michelle ry Potch toe. Môre word my stiefma begrawe.”

Wynand hap in die lug. “Maar ek dag die dierasie is lankal dood?”

“Wel, sy is nie. Sy is twee dae gelede dood.”

Twee lang tree sluk die afstand tussen hulle in. “Julia, ek is jammer.” Hy neem haar in sy arms en sy protesteer nie.

“Ek weet julle het nie eye to eye gesien nie, maar tog. Sy was darem jou ma.”

“Stiéfma. My ma is dood toe ek ses was. Dertig jaar gelede. Jy weet dit.”

“Ja, maar tog . . .”

Julia weet sy gaan beheer verloor. Sy kan die emosie soos braaksel in haar mond voel opstoot. Sy stamp hom weg. “Ek moet gaan klaarmaak.”

Sy vee die klammigheid aan haar voete aan die streepmatjie voor haar agterdeur af. “’n Slot aan die hekkie, Wynand.” Hy ignoreer dit, is net op haar gefokus. “Ek kan saamkom. Ek het geen vergaderings vandag nie..”

Kopskuddend tree sy die huis in, sluit die veiligheidshek tussen hulle. Wynand staan hulpeloos op haar stoep, sy bene jonk soos dié van ’n seun in sy kortbroek, sy voete kaal. Al wat sy kan doen om nie week te word nie, is om die agterdeur ook toe te maak. Met haar rug teen die deur betrag sy haar veilige hawe. Haar kombuis wat oorvloei in ’n eetarea, ’n sitkamer, werkskamer, alles ineen. Sy wil op die bank gaan lê en haar ouma se hekelkombers oor haar trek, haar gesig in die bont kussing druk en haar hart uithuil. Oor Wynand en die futiliteit van hulle verhouding. Oor haar ma wat weg is toe sy nog so bitter jonk was. Oor haar stiefma wat nooit haar ma se plek kon volstaan nie. Maar sy het nie tyd nie.

Haar bene dra haar outomaties kamer toe. Sy pak die enigste rok wat vir ’n begrafnis sal deug in haar oornagtassie en ’n skoon bloes vir môre. Onderklere, haar toilet- en grimeersakkies. Slaapklere. Sy sit haar tas by die voordeur neer.

In die kombuis sit sy die radio aan om die Babelse verwarring in haar kop stil te maak. “Just stop your crying, it’s a sign of the times,” sing ’n man profeties. “Welcome to the final show, hope you’re wearing your best clothes.”

Skoene. Sy het haar skoene vergeet. Sy gaan haal die paar swart skoene wat netjies in hulle boks wag, afgeborsel ná haar pa se begrafnis. In die kombuis speel die liedjie nog. “Just stop your crying, it’s a sign of the times, you’ve got to get away from here, you’ve got to get away from here . . .” Die musiek resoneer die ontsteltenis in haar, laat haar voel om soos ’n hond in die volmaan te tjank.

Sy sit die radio summier af. Sy spoel haar koffiebeker uit en maak seker daar is kos in Delilah se kosbak. Die kombuis is netjies. Die laaste twee dae het sy byna nie geëet nie. Nie omdat sy rou oor haar stiefma nie maar omdat die ou vrou se skielike dood allerhande dinge na die oppervlak gedwing het. Julia se gemoed is eenvoudig te vol, daar is nie plek in haar maag nie. ’n Donderslag herinner haar daaraan om die modem se kragdraad en die telefoonkabel uit te trek. Natuurlik broei daar ’n Hoëveldstorm. En sy het nie die beslommernis van apparaat wat deur die weer uitgeslaan word ook nog nodig nie.

Toe die eerste druppels neerplof, hou haar suster onder die afdak stil. Sy klim nie uit nie, maak die bagasieruim van binne af oop. Julia sit haar tas langs Michelle se oornagsak neer. Toe sy inklim, maak Michelle haar lipstiffie toe en gooi dit in die oop grimeersakkie op haar skoot. “Gereed?”

Julia knik.

“Let’s get this freak show on the road.”

Dit reën so hard dat Michelle al haar aandag aan die pad moet gee en Julia kan haar gedagtes laat gaan. Hoe het haar lewe in so ’n kort tydjie in so ’n doodloopstraat beland? Hoekom is die ou vrou juis nou dood, net nadat sy besef het sy en Wynand het nie ’n toekoms saam nie? “So, wanneer laas het jy haar gesien?” wil Michelle weet.

“Wie?”

“Die dierasie. Die draak. Die heks. Jy weet wie.” “Michelle, dis darem baie oneerbiedig.”

“Kom nou, Jules. Dis wat jy haar ook genoem het.”

“Ja, maar mens moet darem respek hê vir die dooies.”

“Hoekom? Het sy respek gehad vir óns dooies?”

“Sy het haar heeltemal fatsoenlik gedra met Pa se begrafnis.”

“Jy weet dis nie waarvan ek praat nie. Hoekom tree jy vir haar in die bresse, Julia? Jy weet die beste van ons almal dat sy geen respek gehad het vir ons ma nie. Het sy of het sy nie elke liewe foto van haar laat verdwyn nie?”

“Ja, maar . . .”

“Het sy of het sy nie al haar meubels, al haar klere, al haar breekgoed weggegee voordat daar gras oor haar graf gegroei het nie?”

Julia sê niks. As sy nou dink aan die tyd toe haar ma oorlede is, hou sy sweerlik nooit weer op huil nie.

“Wanneer?” dring Michelle aan.

“Wanneer wat?”

“Het jy haar laas gesien?”

“Ek weet nie. Ná Pa se begrafnis, dink ek.”

“Drie jaar gelede.”

“Ja, Michelle, drie jaar gelede. Dieselfde geld vir jou. Jy’ het haar nie daarna besoek nie.”

“Nee, maar sy was nie my stiefma nie. Ek was uit die huis, vir my was sy net Pa se vrou. Vir jou het sy grootgemaak.”

Julia bestudeer die poniestert wat oor haar skouer hang asof sy antwoorde in die gesplete punte kan vind. “Ons is flippen skynheilig om na haar begrafnis toe te gaan.”

Michelle sug. “Ja. Waarskynlik. Maar Hasie . . . Besef jy dat dit die eerste keer in sy lewe is dat hy my gebel het, Jules?”

Julia knik. Hulle stiefbroer het haar ook nog nooit voorheen gebel nie. Hy is so bang vir ’n telefoon as wat ander mense vir ’n pofadder is.

“Ek kon sweer hy het gehuil, Jules.”

“Wel, die dierasie was sy ma. En hulle was na aan mekaar.”

“En al wat vir haar oorgebly het ná Pa se dood, was Hasie.”

“En Gielie.”

Michelle rol haar oë.

“En Gielie.”

Hierdie boek is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels of by LAPA-uitgewers.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF