NUUS

ATKV-Tienertoneel spog met n splinternuwe afdeling

Dit is ’n eerste in die vyf dekades van ATKV-Tienertoneel. ’n Splinternuwe afdeling vir ’n hele Tienertoneelgeselskap – van die regisseur, skrywer, spelers en die tegniese operateurs – wat uit slegs hoërskoolleerders bestaan.

Hierdie nuwe afdeling in die ATKV-Tienertoneelkompetisie gee leerders die kans om volkome aan die stuur van sake te wees en hul eie toneelstukke – van die skryfproses tot waar dit op die planke op gevoer word – self en onafhanklik te skep.

Uit die 23 toneelstukke wat in hierdie kategorie meegeding het, is vier gekies om vanjaar tydens die finaal van die ATKV-Tienertoneelkompetisie by die Roodepoortteater hul slag te wys.

“Ons is baie opgewonde oor die slegs leerders-produksies wat gaan optree. ’n Mens kan werklik nie glo dat die leerders alles self gedoen het nie. Die inhoud en substans van die tekste is ongelooflik vir sulke jong mense,” sê Lizané Basson, projekorganiseerder.

Die leerders het met uitsonderlike produksies vorendag gekom wat onder meer ernstige kwessies insluit: die realiteit van die teaterbedryf; mensehandel; verhoudings wat tragies sneuwel; en kommentaar op sosiale kwessies.

Een van die vier toneelproduksies is Helpmekaar Kollege se NET NÓG EEN. Die 17-jarige Pieter Hougaard is die regisseur van dié produksie en dit is boonop sy eerste toneelstuk wat opgevoer word.

NET NÓG EEN handel oor nege meisies wat saam in ’n kamer aangehou word nadat hulle ontvoer is en uiteindelik die slagoffers van mensehandel word.

“Ons ly aan tonnelvisie,” sê dié Helpmekaar Kollege-leerder. “Ek wou hê mense moet sien hoe maklik dit vir kinders en volwassenes is om slagoffers te word.”

Hoërskool Tygerberg se Toneel vir my deur Daniellé de Villiers is ’n realistiese weerspieëling van die realiteit van die toneelbedryf. Hierdie hartroerende verhaal gaan oor Klara van der Merwe se lewensreis, op soek na haar "golden ticket". Haar droom is om ’n sukses in die toneelbedryf te wees, maar sy is nog nie wie sy moet wees nie.

Die Hoërskool Eldoraigne se WAT!? – ’n Absurde drama deur Joshua Lotz is ’n soort absurde teaterstuk wat in ’n restaurant afspeel. Die “kelners” speek alles wat eksistensieel is met ’n tikkie donker humor aan.

In die Hoërskool Noordheuwel se Tot die dood ons skei – geskryf deur Arno Botha –gaan die gehoor lank ná die tyd nog peins oor die lewe en hulle bestaan. In dié toneelstuk het Johan Faust ’n vooropgestelde droom van hoe die lewe moet lyk.

Maar dié droom word deur ’n nagmerrie besoedel – een wat hom vanuit die werklikheid dreig. Jessica Getchen vind die perfekte ou, maar dit kom saam met ’n noodlottige fout – een wat haar meer sal kos as wat sy sal kan raai.

“Die dapperheid wat hulle aan die dag gelê het om ’n produksie aan te pak en die absolute talent om dit op so ’n hoë standaard te doen is noemenswaardig. Die mentors verdien baie krediet. ’n Rolmodel of professionele produksie wat daarin slaag om leerders te inspireer, motiveer en bemagtig, is kardinaal vir die sukses van produksies wat deur slegs leerders geskep word,” sê Lizané.

Ongeveer 3 500 hoërskoolleerders het aan die 195 produksies tydens die 11 ATKV-Tienertoneelstreeksfeeste deelgeneem.

19 produksies (insluitend die vier slegs leerder-produksies) sal van 1 tot 5 Oktober by die Roodepoortteater meeding.

Die wengroep ontvang R30 000, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2019. Die naaswenner ontvang

R20 000. Die toneelgroep wat in die derde plek aangewys word, ontvang R10 000. Die beste produksie deur slegs leerders ontvang prysgeld van R10 000.

Van 1 tot 4 Oktober begin die program elke aand om 17:00 en vier tot vyf produksies sal in aksie wees. Kaartjies kos R100.

Op 5 Oktober sal die vyf topproduksies vanaf 17:00 op die verhoog wees. ’n Kaartjie sal jou net R150 uit die sak jaag.

Die prysuitdeling vind op 6 Oktober om 10:00 by die UJ-teater plaas en is slegs vir die deelnemers.

Kaartjies is by www.webticket.co.za, die Roodepoortteater of enige Pick n Pay met Webticket-fasiliteite beskikbaar.

Vir die program klik hier

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF