NUUS

'Dowe gode' van Dibi Breytenbach ’n moetleesroman

dowegodeNie baie skrywers het die waagmoed én kennis om gesaghebbend oor omstrede temas soos plaasaanvalle en renosterstropery te kan skryf nie, maar dis presies wat die gewilde spanningsverhaalskrywer Dibi Breytenbach in haar vierde roman doen. Boonop is die speurder wat hierdie bloederige raaisels moet oplos ’n vrou wat ook met ’n persoonlike tragedie worstel.

Om op ’n sensitiewe, empatiese manier oor iets soos ’n plaasmoord te skryf – sonder om in retoriek of politiekery te verval – wil gedoen wees, en Breytenbach slaag hierdie toets met vlieënde vaandels. Boonop dwing sy die leser om na te dink oor kwessies soos verraad. Haar binnekennis van strafregtelike ondersoeke (Dibi is ’n ervare regsgeleerde wat al aan plaasmoordondersoeke en sake oor renosterstropery gewerk het) maak van Dowe gode ’n moetleesroman met ’n sterk, volgehoue spanningslyn. Die ontknoping spog met ’n behoorlike kinkel en ’n mens bly deurentyd aan die raai oor wat presies gebeur en wie nou eintlik vir wie verraai het (en steeds verraai).

Volgens Dibi was ware gebeurtenisse die vonk vir die verhaal. “As ’n mens eers eenmaal as regsgeleerde by so ’n saak betrokke was, steek dit so half in jou kop vas,” vertel sy. “’n Plaasmoord bly ’n verskriklike ding wat nie net die betrokke familie raak nie, dit trek byna soos ’n aardbewing deur die hele gemeenskap. Ek wou iets vertel van die ontsetting daarvan, maar wou terselfdertyd ook die leser dwing om hul vooropgestelde idees om die tema te bevraagteken, want ongelukkig lýk slegte mense nie altyd boos nie.”

Dibi het nog nooit in haar skryfwerk weggeskram van moeilike kwessies soos ras of geweld nie, en in Dowe gode word dit puik hanteer deur kapt. Aella O’Malley, eintlik ’n fynbesnaarde, kunssinnige vrou wat veel eerder ’n pianis sou wou wees as ’n speurder verbonde aan ’n onderbemande polisiekantoor in die boendoe.

Dowe gode is ’n moet vir al Dibi se aanhangers, en as jy hou van spanningsverhale wat sterk fokus op polisieprosedure, is hierdie een beslis vir jou. – Ilse Salzwedel

Hierdie boek is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels of by LAPA-uitgewers.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF