NUUS

Beyers de Vos sorg vir interessante spanningsroman met 'Wrok'

wrok“Een stad. Vyf mense. Wraak se bloedspoor.”

Só staan dit geskryf op die agterblad van hierdie debuutroman, wat die leser lank ná die neersit nog bybly.

Vyf uiteenlopende hoofkarakters, baie kort hoofstukke (party letterlik net een paragraaf lank) en ’n woordvaardigheid wat ’n mens laat dink die skrywer het elke woord lank oordink voordat dit uiteindelik ’n plekkie in die roman gevind het, is die opvallendste kenmerke. Die skrywer se fyn waarneming val ook op.

Ruimte – in hierdie geval die strate van Pretoria – word ’n newe-karakter. Die verhaal van Freya Rust se obsessie daarmee om haar tweelingbroer, Ben, se moordenaar te laat boet maak dat die leser later byna net so koorsagtig soos die karakters deur die strate jaag om agter die kap van die byl te kom. Freya se paaie kruis met dié van die rugbyafrigter en enkelpa Oktober, wie se verlede – en sy rebelse tienerdogter se eskapades – by hom spook. Slick, die dwelmhandelaar, is die randfiguur wat eintlik sentraal tot die drama staan en insp. Nolwazi Mngadi is die arme polisievrou wat die hele katnes – wat ook polisiekorrupsie behels – moet uitsorteer.

Dis nie verbasend om te hoor dat die roman die onderwerp van De Vos se meestersgraad in kreatiewe skryfkuns onder Etienne van Heerden was nie. Dit bevestig die aanvanklike vermoede, dat elke woord deeglik geweeg en oorweeg is. Dit sorg vir een van die interessantste spanningsromans van die jaar. – Ilse Salzwedel

Hierdie boek is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF