NUUS

Toneelstuk deur leerders en regisseur se trauma geïnspireer

’n Jong meisie wat pleit dat rowers haar balletskoene sal los en kinders wat elke dag moet katvoet loop vir bendes, was die inspirasie vir een van die Hoërskool Tygerberg se toneelstukke, Mister M en sy Mense, wat vanjaar aan die ATKV-Tienertoneelfinaal deelneem.

“Ons het die kinders laat briewe skryf oor wat hulle bang maak en baie van die kinders het gesê geweld en bendes.

"Twee van my kinders bly in gebiede waar hulle moet platval as hulle begin skiet. Hulle weet presies wie die bendes en die skollies is en hoe om te reageer,” sê Marguerite du Bois, regisseur van Mister M en sy Mense.

Dié toneelstuk handel oor ’n klomp huishoudings wat elkeen in pyn vasgevang is en die alomteenwoordige vrees vir geweld wat elkeen koester.

Marguerite vertel sy is al self deur misdaad geraak.

Sy herroep die herinneringe van toe sy op skool was en die aand aan ’n balletuitvoering moes deelneem.

“Hulle het voor die tyd vir my en my gesin in ons huis met gewere aangehou. Ek het hulle gesmeek en gesoebat om my balletskoene te los. Gelukkig het hulle, en ek kon nog die aand aan die ballet gaan deelneem.”

Sedertdien het Marguerite ook ’n vrees vir geweld en misdaad.

“Ek dink alle Suid-Afrikaners beleef dit. Ons almal weet jy stop nie in die aand by ’n rooi robot nie. Ons almal weet jy sluit jou kar se deure en loop nie ná donker in die strate rond nie.”

Mister M en sy Mense raak ook aan bendegeweld.

Slegs drie kilometer van die Roodepoort Teater waar dié toneelstuk opgevoer gaan word, loop gemoedere hoog in die woonbuurt van Westbury waar mense met gewelddadige optogte hulle misnoeë uitspreek teen swak polisiëring en bendegeweld.

“Een gesin het hulle seun afgestaan, nie aan die dood nie, maar aan bendes.

“Geweld raak alle Suid-Afrikaners. Of jy nou swart, wit, bruin, pienk of pers is.”

Marguerite sê die stuk is egter nie net swaar nie, maar bied ook inspirasie.

“Met hierdie stuk is dit vir ons belangrik om vir mense te wys dat daar steeds hoop is en dat daar steeds genesing kan kom en ’n mens die mooi kan sien. Daar is altyd mense wat wil help en teen die geweld wil stry.”

Die Hoërskool Tygerberg spog vanjaar met drie produksies, Toneel vir my, Mister M en sy Mense, Vlot ter see, by die finaal. Dié skool se produksie, Innie Selle, was verlede jaar die algehele wenner van ATKV-Tienertoneel.

Die ATKV-Tienertoneelfinaal het Maandag 1 Oktober begin en sal tot Vrydag 5 Oktober duur. Die wengroep ontvang
R30 000, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2019. Die naaswenner ontvang R20 000. Die toneelgroep wat in die derde plek aangewys word, ontvang
R10 000. Die beste produksie deur slegs leerders ontvang prysgeld van R10 000.

Die prysuitdeling vind op 6 Oktober om 10:00 by die UJ-teater plaas en is slegs vir die deelnemers. – Jacques Myburgh

 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF