NUUS

Mickey Muis se verjaardag in JHB met uitstalling vier

Op 90 is hy nog net so hups as in die eerste van sy 130 rolprente – dié mensmuis met die rooi kortbroek, geel skoene en wit handskoene. En sy glimlag is nog net so Mickey Muis-vriendelik soos wat jy dit uit jou kinderdae onthou.

Mickey Muis is vanjaar 90 en dié verjaardag word wêreldwyd gevier – ook in Johannesburg waar Today Disney Africa met Art Eye Gallery in Doornfontein saamgespan het in die totstandkoming van tien tamaai versierde veselglasbeelde van dié internasionale rolprentster en strokiesprentkarakter. Dié tweemeterreplikas van die nimlike muis is vir die uitstalling Mickey True Original versier deur tien kunstenaars – Toni Bico, Phumzile Buthelezi, Trevor Coleman, Welcome Danca, Lee Scott Hempson, Cassius Khumalo, Colbert Mashile, Nika Mtwana, Dominic Tshabangu en Louis van den Heever. Elkeen van dié kunstenaars het ʼn verbintenis met Eye Art Gallery.

Elkeen van dié kunstenaars het met sy en haar kenmerkende styl ’n replika van Mickey in sy kenmerkende posisie met uitgestrekte arms beskilder. Met ’n opdrag soos “Mickey in Afrika” kan ʼn mens jou die uiteenlopende voorkomste van dié tien Mickey’s voorstel – van helder verf tot spuitverf, van graffiti tot shweshwe.

Mickey Muis het in 1928 sy debuut in New York gemaak in die rolprent Steamboat Willie, een van die eerste animasieprente met klank. Dit was maar die begin. Later sou dié muis sy buiging maak in meer as 100 animasieprente, talle strokiesprente en deesdae ook op die Disney Channel op televisie.

“Nege dekades lank is Mickey Muis as animasiekarakter al daar om die een geslag aan die ander te verbind,” het Christine Service, senior visepresident en bestuurder vir Afrika van die Walt Disney-maatskappy, tydens die opening van die uitstalling by Eye Art gesê. “Sy ikoniese en wêreldwye status is iets wat kunstenaars deur die jare aangegryp het.”

Dit was kunstenaars soos Andy Warhol, Roy Lichtenstein en Claes Oldenburg wat almal op die een of ander manier gestalte aan dié ikoniese muis gegee het. En toe Damien Hirst in 2015 nuwe kol-skilderye vertoon het met Mickey Muis as inspirasie, het hy gesê dit is die vreugde om kind te wees waaraan Mickey Muis hom herinner.

Tyrone Selmon, eienaar van Eye Art, is in sy noppies met die projek en die werk wat die tien kunstenaars gelewer het. “Een van die opwindendste aspekte is dat die Mickey’s, toe hulle hier opgedaag het, almal dieselfde gelyk het,” sê hy. “Nou het elkeen ’n eie persoonlikheid gekry.”

Op 82 is Trevor Coleman (foto regs) die oudste kunstenaar wat aan die Mickey True Original-uitstalling deelneem. En getrou aan Coleman pryk sy Mickey met die guitigste kleure, maar blyk die meesterskap van kleursensitiwiteit, van kontraste en fokuspunte. Dit is die blou kol op die maag (met twee kontrasterende knope) wat as’t ware die hele komposisie in balans en dinamies hou.

Louis van den Heever, wie se kuns gewoonlik ’n sterk pop-element het, het die Afrika-tema omhels. Die een been is geklee in zebrastrepe en die ander een in luiperdkolle. Om sy nek dra sy Mickey die buitelyn van die vasteland as amulet.

“Dit was die heerlikste uitdaging,” sê Van den Heever, ’n Kaapse kunstenaar wat tans ’n kunstenaarsverblyf by Eye Art het. “Met die tema in gedagte het ek soveel moontlik elemente wat eie is aan Afrika in die werk probeer inbring.”

Nika Mtwana, ’n kunstenaar van die Oos-Kaap, het eweneens alles ingespan om te verseker sy Mickey is die opperste vergestalting van Afrika-oorspronklikheid.

Vir ’n raps langer as twee weke was Eye Art in Ellis House in Voorhoutstraat ’n miernes van bedrywigheid toe al tien kunstenaars daar aan hulle kunswerke gewerk het.

Intussen is die tien veelkleurige beelde volgens Selwyn verskuif na Sandton City waar dit tot 14 Oktober te sien is. Daarna gaan die beelde na die Gateway Theatre of Shopping-inkopiesentrum in Durban waar dit van 19 Oktober tot 11 November te sien is, en van daar na Kaapstad se Canal Walk-sentrum waar dit van 16 tot 26 November te sien sal wees. – Johan Myburg

 

 

 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF