NUUS

'ATKV-tak Tonteldoos se roos' met ATKV-oorkonde vereer

Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: taal en kultuur by die ATKV, oorhandig aan Marina Mentz ’n ATKV-oorkonde.

Dit verg ’n formidabele vrou om haar lewe aan die kunste toe te wy en ’n beduidende verskil in haar gemeenskap te maak.

Marina Mentz wat vir die afgelope tien jaar as die voorsitter van die ATKV-tak Tonteldoos gewoeker het om taal en kultuur te bevorder, is Woensdag (10 Oktober) met ’n ATKV-oorkonde vir haar harde werk vereer.

“Sedert die ATKV-tak Tonteldoos gestig is, was Marina aan die voorpunt van dié tak. Sy het soveel respek van nie net taklede gekry nie, maar ook van haar musiekleerders en haar vriende. Sy is as’t ware die roos van die ATKV-tak Tonteldoos,” sê Susan du Toit, huidige voorsitter van dié tak.

Marina het die oorkonde by ’n swierige aangeleentheid by die L’Aquila-landgoed in Pretoria ontvang.

Sy het ’n BMus-graad deur Unisa en ’n honneursgraad in musiek aan die Universiteit van Pretoria behaal en is die orrelis van die NG gemeente Faerie Glen in Pretoria.

Marina was instrumenteel in die groei van ATKV-Applous, waar sy die aanvanklike organiseerder was en sedert 1999 is sy steeds jaarliks ’n beoordelaar by ATKV-Applousstreeksfeeste.

“Takke is baie belangrik vir die ATKV,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: taal en kultuur by die ATKV.

“Ons het meer as 320 takke regoor die land en dié takke het jaarliks meer as 1 200 projekte wat hulle aanpak. Marina en haar tak dra by tot hierdie indrukwekkende getal.”

Sy was oorstelp deur die toekenning wat sy ontvang het en het haar sukses grotendeels aan haar taklede toegeskryf.

“Julle was nog altyd my hande en voete. Julle het my gedra deur al die projekte wat ons aangepak het.

“Die ATKV se hoofkantoor het my ook altyd ondersteun as ek soos ’n warrelwind daar ingestorm het. Die ATKV was nog altyd goed vir my,” sê sy.

Sy sê sy hoop hierdie toekenning spoor ander taklede aan om ook 100% te gee vir die taal en kultuur.

“Dit is in ons hande om seker te maak dat die skatkis van ons taal bewaar word.”  

 

 

 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF