NUUS

Losprys: Waar realiteit en fiksie mekaar ontmoet

losprysMartin Steyn se boeke gryp jou aan die strot en wys vir jou die donker kant van reeksmoordenaars, psigopate en misdadigers. Sy nuutste boek, Losprys, is geen uitsondering nie. Hier toon hy weer sy staal as hy fiksie met die realiteit verweef.

“Ek is nie ’n speurder of ’n gyselaaronderhandelaar nie,” sê hy.

“Iets wat ek sommer gou geleer het toe ek begin het om met die polisie te praat is dat dit meestal nie is soos wat ’n mens dink nie.

“Ons is al so geprogrammeer deur Hollywood dat dit in ’n groot mate ons verwysingsraamwerk vorm.”

In Losprys word ’n Amerikaanse kind ontvoer en adjudant Enzo Ariefdien van die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid meen dat hy hom op glibberige terrein bevind omdat hy moordsake verkies. Hy wil nie pa staan vir die lewe van dié vermiste kind nie en dan is dit nog boonop ’n ontvoering met ’n losprys. Die roman se fokus is tweeledig: die naspeur van leidrade, getuies en verdagtes, deur die oë van adjudant Enzo Ariefdien, en die onderhandeling met die ontvoerders deur adjudant Karla Blanckenberg van die Gyselaaronderhandelingseenheid.

Martin verklap dat dié roman op ware gebeure gegrond is.

“Die idee kom van ’n ou saak af – ’n seun wat in Kaapstad ontvoer en deur twee Europeërs vir ’n losprys aangehou is. Gyselaaronderhandelaars het by die gesin se huis ingetrek en met die ontvoerders onderhandel.

“Ek het destyds oor die saak gelees en sulke goed lê maar in ’n skrywer se onderbewussyn en wag op ’n katalisator.

“Hoewel my storie baie anders verloop, het ek heelwat stukke van daardie saak gebruik om dit mee uit te bou.”

Toe hy by ’n boekbekendstelling van Karin Brynard se Tuisland in Stellenbosch ’n gyselaaronderhandelaar ontmoet, was die koeël deur die kerk.

“Ek het in daardie stadium net gevra of ek hom dalk die een of ander tyd kan kontak. ’n Paar maande later het dinge gekliek en die stukke van Losprys het bymekaar begin kom.”

Losprys verskil tot ’n groot mate van vorige boeke uit sy pen soos Skuldig en Donker Spoor.

“Die saak wat ondersoek word, is baie anders.

“Dis nie ’n moordsaak nie. Daar is nie ’n lyk nie, daar is ’n lewe wat iewers aangehou word. Dis eintlik ’n irritasie vir Ariefdien, want hy verkies dooie slagoffers. Vandat hy besluit het om ’n polisieman te word wou hy ’n moordspeurder wees.”

Martin wil nie veel meer oor sy nuwe skepping weggee nie.

“Ek wil hê lesers moet die storie self ontdek en hul eie ervaring hê. Die lekkerste lees is wanneer jy sonder enige vooropgestelde idees of verwagtinge ’n boek oopmaak.”

Losprys is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op www.lapa.co.za.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF