NUUS

Uittreksel: Prooi deur Deon Meyer

ProoiDeon Meyer is seker een van die gewildste skrywers in Afrikaans. Sy nuutste Bennie Griessel-boek, Prooi, is nou beskikbaar. Hier is ’n uittreksel uit dié nuwe boek.

***

Oudezijds Achterburgwal nommer 82D is ’n klokkie aan ’n deur, met ’n klein getikte strokie daaronder wat sê Ditmir’s Trading. Daar is ’n klein luidspreker teen die muur.

Hy druk die knoppie, maar hoor dit nie lui nie.

Hy wag, tot ’n vrouestem sê: “Second floor, please.” Die deur gons. Hy trek dit oop, loop in. ’n Stel houttrappe, geen hysbak nie. Hy klim met die trappe op. Op die eerste verdieping is daar ’n toe deur, swaar, geen naambord of aanduiding van wat daar agter gebeur nie. Op die tweede verdieping is ’n ondeursigtige glasdeur waarop Ditmir’s Trading gesandspuit is. En daaronder: The Best from Albania, met ’n groot vet uitroepteken om dié blye nuus mee af te sluit.

Daar is ’n klein kamera net bokant die deur. Hy maak die deur oop, gaan in.

Binne is ’n ruim vertrek. Daar is twee vroue agter ’n lang toonbank links, hul lang blonde hare in ’n identiese, reguit styl, die een helfte van die kapsel agter teen die rug af, die ander helfte voor oor die skouer. Daar is helderkleurige plakkate teen die muur agter hulle, op elkeen ’n groot logo wat sê Made in Albania. Op die plakkate is foto’s van tekstielware, tabak, vrugte en groente. Baie groente. Drie wit tweesitplekbanke, modern en stylvol, teen die vensters regs. Twee klein tafeltjies met pamflette en tydskrifte. Twee kameras. Een in die hoek, een agter die vroue.

Hulle groet hom vrolik. “Good morning, sir! Welcome to Ditmir’s Trading!” Nog uitroeptekens. Hulle lyk na susters. Ewe lank, ewe blond, ewe ingekleur, die grimering dalk ’n titsel aan die swaar kant, in hul grasgroen bloeses en blou denims wat die kleure van die Made in Albania-logo eggo. Vinkel en Koljander. Vinkel se voortande is ’n bietjie meer prominent. Koljander het ’n klein, blink edelsteentjie teen die linkerkant van haar neus.

Hy loop na die toonbank en groet terug. “I’d like to see Ditmir personally, please,” sê hy. Hy sien die blonde hare is gekleur.

Steeds glimlaggend sê Vinkel: “Oh, do you have an appointment?”

“I’m afraid I don’t, but I really don’t mind waiting.”

“I’m not sure that he’s free today. What is it about?”

“I’m interested in his special range of products.”

“Oh, perhaps I can help. Which specific products did you have in mind, or would you like to discuss the whole range of Albanian exports?”

“I’d rather speak to Ditmir in person, if you don’t mind.”

“Of course, sir. Won’t you please take a seat?”

“Sure.”

Hy gaan sit op die middelste bank, tel een van die pamflette op. Dit sê Albanië is nommer 131 in die wêreld wat uitvoere betref. Hy wonder of dit ’n apologie of ’n spogtery is.

Hy sien Koljander tel ’n telefoon se gehoorbuis op, praat daarin in ’n taal wat hy nie verstaan nie.

Sy praat hopelik met Ditmir of een van sy mense. Wat hom dophou op ’n TV-skerm iewers in die gebou.

In die pamflet lees hy oor Albanese handel. The top exports of Albania are Leather Footwear ($310M), Crude Petroleum ($277M), Footwear Parts ($187M), Chromium Ore ($134M) and Non-Knit Men’s Suits ($129M). Hy wonder wat behels dié “footwear parts”.

Hy weet nie wat ’n “non-knit”-manspak is nie. Hy’t gedink omtrent alle manspakke is “non-knit”. Nie dat hy ’n kenner is nie; hy het dekades laas ’n pak besit.

Koljander sit die telefoon neer. “Sir?”

Hy staan op. “Yes?”

“I’m afraid mister Ditmir won’t be able to see you today.”

“When can I see him?”

“His diary is extremely full. Perhaps you can come back tomorrow?”

“I’m rather in a hurry . . .”

“I’m really sorry, sir. He is such a busy guy. Maybe tomorrow?”

“Thank you,” sê hy. “It will be difficult, but I’ll try.”

Hy groet. Hulle groet glimlaggend en vriendelik terug, wens hom ’n “nice day” toe.

Met ’n uitroepteken.

Toe hy weer op straat is, draai hy noord, loop al met die grag langs. Hy kan nie wag tot môre nie, besef hy. Hy moet verkieslik al môreaand terug wees in Parys. Maar eers moet hy vasstel of hy reg was.

Want hy verwag dat die ontwykende Ditmir ’n proses sal hê om potensiële nuwe klante te evalueer. Hy vermoed hy sal nou agtervolg word. Daarom gaan staan hy voor die Casa Rosso-klub en gee voor hy kyk na die plakkaat wat ’n seksvertoning adverteer, sodat hy sy agterhoede kan dek. Hy sien hulle. Twee mans van gemiddelde lengte, met dik skouers, kom by dieselfde Ditmir’s Trading-deur uit, so honderd meter agter hom.

Hy talm nog ’n oomblik, asof hy die Casa Rosso-vertoning ernstig oorweeg, soos ’n man wat skielik tyd tot sy beskikking het. Hy draai gemaak onwillig weg, stap dan verder, tot by die Molensteeg-bruggie. Hy draai daar regs, en nog ’n keer, in die rigting van die Waag.

Hulle kom, ongeveer honderd-en-vyftig meter agter hom. Sonder ’n ernstige poging om minder sigbaar te wees. Of dalk is hulle net nie vaardig nie. Die een loop effens bakbeen. Dit lyk of hulle neefs kan wees. Daar is ’n skimp van die komiese aan dié tweemanskap, soos iets uit die stilflieks van die negentien-dertigs. Laurel en Hardy. Hy wonder of alle Albanese in nuttige pakke van twee kom.

Op die Nieuwmarktplein gaan sit hy by ’n tafeltjie op die sypaadjie van die Cafe del Mondo, sodat hy ’n uitsig oor die plaza het. Hy neem alles in soos ’n bekoorde toeris. Hy sien hulle aan sy periferie, waar hulle besluiteloos voor die Albert Heijn-supermark gaan staan.

’n Kelner kom neem sy bestelling. Hy bestel koffie, leun terug, asof totaal ontspanne.

Hulle het langsaan gaan sit, by die Cafe Poco Loco. Een se rug na hom toe, die ander een kyk in sy rigting, probeer dit onopsigtelik doen.

Hy vermoed hulle is nie in dié kuns geskool nie.

Die koffie kom. Hy drink dit stadig, kyk na die kleurvolle blomstalletjies oorkant, na die lieflike ou Waag-gebou, seshonderd jaar oud, eens die plek waar handelaars goedere heen geneem het om te laat weeg.

Hy sit.

Hulle sit.

Hy bestel nog koffie, talm so veertig minute, sit dan geld op die tafel neer en staan haastig op, loop om die hoek, en dan wes. Hy rek sy treë. Hy wil weet hoe goed dié twee is, hoe ernstig hulle is om hom dop te hou.

In die Stoofsteeg sien hy hoe hulle weer binne trefafstand kom. Op die Damplein, tussen honderde toeriste, straatdansers en vuurblasers, skud hy hulle met verbasende gemak af, sodat hy moet gaan staan en wag dat hulle hom weer opspoor.

Nee, hulle is nie diep geskool in dié kuns nie. Of dalk stel Ditmir nie vreeslik belang in nuwe klante nie.

Dan loop hy rustig en geamuseerd met die kronkels van Raadhuisstraat langs, om te gaan eet by The Pancake House net duskant die Westerkerk.

Die twee Albanese kom by die restaurant in op die presiese oomblik toe Daniel se kos bedien word. Hulle loop reguit na sy tafel, trek stoele uit, gaan sit.

“I’m really curious,” sê Daniel, “what is a ‘non-knit suit’?” Hy kyk hoopvol van die een na die ander.

Hulle frons in totale verwarring. Al twee is in hul vroeë veertigs, skat hy. Donker baardskaduwees, hulle ruik sterk na duur naskeermiddel en vaagweg na knoffel. Die fris skouers is van harde werk, van swaar voorwerpe optel, nie van ’n gimnasium nie. Hare kortgeskeer. Die een met die bakbene het ’n klein sekelvormige litteken onder sy linkeroog. Hulle lyk vir hom meer na groenteboere as lede van die Albanese mafia.

“What do you want with mister Ditmir?” vra die een met die sekellitteken, sy aksent swaar.

Die kelner bring nog spyskaarte, wat hulle met ’n geïrriteerde wuif van die hand wegwys.

“What everybody wants with mister Ditmir,” sê Daniel gemoedelik.

“His special products.”

“What special products do you want?”

“I’ll tell Ditmir when I see him in person.”

“Who do you represent?”

“Myself.”

“Who referred you to mister Ditmir?”

“An African connection.”

“What is his name?”

“They prefer anonymity.”

“What is your name?”

“Doesn’t matter.”

“Where are you from?”

“Africa.”

Hulle staar na hom met groot intensiteit. Hy wonder of hulle verwag dat hy moet verwelk.

Eindelik haal Sekel ’n selfoon uit, bel iemand. ’n Lang gesprek in Albanees volg. Redelik ernstig. Die enigste woord wat Daniel van dit alles verstaan, is “Afrikan”.

Aan die einde van die oproep sê Sekel vir Daniel: “Finish your food. Then we will go to the toilet, you and I.”

“Sounds like fun,” sê Daniel. “I’ll show you my footwear parts, and you can show me yours.”

Daar is nie eens ’n vonkel in hul oë of die sweem van ’n glimlag nie.

Dit is vir al twee ’n ongemaklikheid, ’n verleentheid.

Daniel en Sekel staan in die toilet. Dit is ’n smal, klein vertrek, skaars genoeg ruimte vir Daniel om uit te trek, en vir die man om elke kledingstuk te vat en noukeurig deur te soek. Vir ’n meeluisterapparaat, of ’n wapen, dit maak sin vir ’n man in Ditmir se bedryf.

Sekel haal Daniel se selfoon en beursie uit sy broeksak, bekyk dit, plaas dit in die wasbak.

Dan, wanneer Daniel kaal is, maak die Albanees ’n apologetiese geluid, skakel sy foon se flits aan, beduie vir Daniel hy moet in die rondte draai sodat die man kan sien of daar nie ’n mikrofoon iewers geplak is nie. Daniel vloek kort en stomp.

Sekel trek sy skouers op, ’n gebaar wat sê hy doen net sy werk.

Daniel draai in die rondte.

Nie een sê ’n woord voor hulle terug is by die tafel nie.

Sekel gee die foon en beursie terug. Hy sê: “You can leave your phone here with the waiter. Or you can throw it in the canal.”

“The canal is fine,” sê Daniel. Hy vermoed hulle is bang die foon kan gebruik word om ’n gesprek op te neem. Hy moet in elk geval ’n nuwe foon begin gebruik, en dit skep die regte indruk van professionaliteit by die wapenhandelaars.

Hulle wag dat hy sy rekening betaal.

Sekel sê: “Let’s go. Back to the office.”

Hulle loop weerskante van hom. By die brug oor die Herengracht haal hy sy selfoon uit sy sak, laat dit in die kanaal plons. Drie Chinese toeriste gaap hom in afgryse aan.

Sekel knik tevrede, beduie dan hy moet aanstaltes maak. Die Albanese loop nou twee treë agter hom, al die pad na Oudezijds Achterburgwal nommer 82D.

* Hierdie boek is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF