NUUS

Deon Meyer gesels oor sy nuwe boek ‘Prooi’

DeonDie lang wag is verby en Deon Meyer-aanhangers kan uiteindelik hulle in ’n splinternuwe en spanningsvolle Griessel-dossier ingrawe.

Prooi is dié veelbekroonde skrywer se 13de misdaadroman en beloof om net soveel skopkrag soos sy vorige boeke te hê.

Voor Prooi het Deon ’n novelle, Die Vrou met die Blou Mantel, geskryf waarin Bennie Griessel op die punt staan om te trou. Dit is ook hierdie novelle wat aanleiding tot sy nuwe roman gegee het.

“Ek vermoed die enigste invloed was die voortsetting van Bennie se trouplanne, wat in Die Vrou met die Blou Mantel begin het,” sê Deon.

In Prooi is Bennie en sy mede-speurder, Vaughn Cupido, huiwerig om aan ’n dossier te werk waarin ’n oudpolisieman se lyk langs die treinspore naby Drie Susters gevind is. Dié saak is weke oud en voorspel om ’n nagmerrie vir die speurders te wees.

Ongeveer 9 000 kilometer noord van Drie Susters leef Daniel Darret sy nuwe, eenvoudige lewe in Bordeaux, Frankryk. Tot Ronnie May opdaag, en hom vra om nog een keer te jag. Dít is wat Daniel in die ou dae gedoen het, toe hy ’n laksman vir die Stasi en die KGB was. Sy prooi is die staatsgekaapte president van sy tuisland.

Dit het Deon 14 maande geneem om Prooi te skryf en is ook ’n soort proteslewering teen wat tans in die land aan die gebeur is. Staatskaping en korrupte staatsbeamptes speel af in die agtergrond terwyl die Valke nóg ’n uitdagende saak moet oplos.

“Die storie self bepaal hoeveel realiteit nodig is.Prooi-high-res(002)

“Natuurlik word ’n mens beïnvloed deur jou wêreld en nuusgebeure wanneer jy stories soek en ontwikkel,” sê hy.

Die feit dat dit wéér ’n roman is waarin Bennie die sentrale karakter is, is vir baie van sy aanhangers aangename nuus.

“Ek moet erken dat ek nie oor enige van my boeke of karakters dink as ‘trotse skeppings’ nie — dis dalk ’n vraag wat liefs aan lesers en resensente gestel moet word.

“Bennie was nie inspirasie nie, maar pragmatisme. Ek het ’n karakter in my tweede boek (Feniks) nodig gehad wat net ’n enkele besope taak oor twee of drie bladsye moes verrig. Griessel was die produk. Die skryfproses is egter enigmaties en onvoorspelbaar, sodat hy eindelik veel meer geword het.”

Baie van sy lesers hoop dat Bennie uiteindelik geluk sal vind en met sy Alexa sal trou, maar Deon sê mense moet nie dink die toekoms vir dié speurder is swart en wit nie.

“Daar is nog baie water wat in die see moet loop. Maar ek werk reeds aan die volgende Griessel-dossier.”

* Prooi is landwyd by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar.

Foto: Marianne Vorster

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF