NUUS

#Heldhaftig: Blinde teatergeselskap oorkom die onmoontlike 

Nie alle helde dra noodwendig ’n mantel nie – om die waarheid te sê, die meeste helde kan nie vlieg nie! En, kom ’n mens agter, party helde kan nie eens sien of hoor nie.

Soos die 30 gesiggestremde en dowe kinders van die Re Tlameleng-skool in Kimberley wat by die ATKV-tak Sol Plaatje in die stad betrokke is. En al is hul daaglikse lewe in meer as een opsig uitdagend, neem van die kinders selfs Afrikaans as addisionele taal op skool. 

Albie de Beer, die voorsitter van die ATKV-tak Sol Plaatje, beskryf hierdie groepie besonderse kinders as sy helde. “Hulle Afrikaans-onderwyser het vir hulle ’n toneelstuk geskryf waarmee hulle aan die ATKV-Tienertoneelstreeksfees deelgeneem het, en hulle het baie goeie terugvoer gekry.” Die baie besonderse teatergeselskap het die gehoor en beoordelaars se hartsnare geroer met Blind, blinder, beste, ’n stuk oor ’n groep blinde leerders se uitdagings by die huis en hul strewe na ’n normale lewe.

Andriëtte Potgieter, streekbestuurder by die ATKV, kan ook nie uitgepraat raak oor die stuk nie. “Ek was baie verras om te sien dat hierdie kinders dit reggekry het om, ten spyte van hul gestremdheid en baie beperkings, in ’n verhoogproduksie te speel. Na my mening het hulle ongelooflik goed gedoen.  Hulle is nie net helde nie, maar het my siel met soveel dankbaarheid en genade gevul.”

Albie sê hulle het nog baie planne vir die ATKV-tak Sol Plaatje, en dat die kinders se  deelname aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie maar nog net die begin was.

“Die tak staan nog in sy babaskoene, maar ons beoog om die kinders bloot te stel aan die kleiner plesiertjies in die lewe, ook goed wat hulle weens hul gestremdheid nie noodwendig al ervaar het nie.”

Die ATKV maak van gewone mense helde. Sluit vandag nog aan teen net R86 ’n maand of R996 per jaar. SMS 44733* en staan ’n kans om die Fujifilm X-T100-kamera** ter waarde van R12 000 te wen.

* Standaardtariewe geld
** Die kompetisie sluit op 30 November 2018. Bepalings en voorwaardes is op www.atkv.org.za beskikbaar.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF