NUUS

#Heldhaftig: Rondreisende biblioteek bemagtig dorpenaars

Boekwurms sal saamstem dat jy nie superkragte kry deur ’n radioaktiewe spinnekop wat jou byt nie, of ’n miljoenêr wat geld op ’n tegnologiese gevorderde uitrusting spandeer om booswigte ’n bloedneus te gee nie.

Nee, superkragte lê tussen die blaaie van ’n boek, en die ATKV-tak Hennenman in die Vrystaat weet dit goed.

Dié tak het ’n sowat vier jaar gelede ’n rondreisende biblioteek begin om kleuterskole in dié dorp en naburige dorpe van boeke te voorsien.

“Die doel van die projek is om kleuters die geleentheid te gee om nuwe boeke op ’n kwartaallikse basis te kan ontvang en hulle kan uitsien na ’n nuwe trommel boeke wat hulle nog nie gelees het nie,” sê Marenda van Zyl, takvoorsitter.

Die boektrommels roteer tussen Hennenman, Senekal, Bothaville en Kroonstad en het ook nou na die aftreeoorde in dié dorpe uitgebrei.

“Ons het besef dat daar ’n groot behoefte onder bejaardes is om te lees, en hulle kan nie noodwendig die gewone druk lees nie. Ons het ’n groot skenking van boeke in groot druk ontvang en so ook die oumense van die dorpe by die projek ingesluit.”

Volgens haar is leesbevordering die hoofdoel van die rondreisende biblioteek.

“Ons het ’n geweldige uitdaging om kinders van kleins af bloot te stel aan boeke en hulle te help lees met begrip om sodoende die groot spelkrisis in ons land te probeer ondervang.”

Marenda sê hulle het steeds ’n groot behoefte aan boeke in groot druk en nog skenkings sal waardeer word. Kontak haar by 072 116 2200 of marendavanzyl@gmail.com.

Die ATKV maak van gewone mense helde. Sluit vandag nog aan teen net R86 ’n maand of R996 per jaar. SMS 44733* en staan ’n kans om die Fujifilm X-T100-kamera** ter waarde van R12 000 te wen.

* Standaardtariewe geld
** Die kompetisie sluit op 30 November 2018. Bepalings en voorwaardes is hier beskikbaar.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF