NUUS

Uittreksel: Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach

troebeltyd2Die Troebel Tyd is in 2018 as wenner van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd aangewys. Ingrid Winterbach het haarself weer bewys met haar eiesoortige humor en ’n buitengewone insig in die menslike psige. Hier is ’n uittreksel uit dié nuwe boek.

Februarie is ’n ondraaglik warm en droë maand. Die droogte wat die hele land teister, is die ergste in menseheugenis. Die registrasie en inname van nuwe aanlyn studente en bywerking van medewerkers neem heelwat van Magrieta en Isabel se tyd in beslag. Hulle het so ongemerk meer begin doen dat sy dit self nie agtergekom het voor Isabel haar daarop gewys het nie. Nadat hulle so oor Markus Potsdam bespiegel het, hou sy hom fyner dop as gewoonlik wanneer sy by hom in die kantoor is. Altyd voor die rekenaar, in die leë kantoor, met net ’n paar boeke op sy boekrak, waarvan Magrieta die titels nog net skrams kon uitmaak. As Isabel reg is, en hy sit heeldag daar en sudoku speel, is die hele situasie nóg vreemder. Sy weet niks van hom nie, en daar is niemand by wie sy iets kan uitvind nie. Mevrou Beetge wou niks sê nie en die kanse is goed dat sy in elk geval ook niks geweet het nie. Maar Magrieta hou van hom, daar is iets aan hom wat tot haar spreek – miskien sy pynlike verleentheid wanneer hy haar reguit aankyk, miskien die sfeer van alleenheid wat hom so tasbaar omhul. Miskien selfs net die manier waarop sy hemp altyd oor sy skouers span. En dan die plesier wat sy wel in sy onverwagse, ironiese kommentare en sms’e het. Haar hart gaan uit na hom. Sy dink aan William Blake: ’n siel in swaddling bands.

Sy dink nog soms aan die uitgespoelde walvis, maar altyd onthou sy dan ook haar ellendige fisieke toestand, hoe erg en onophoudelik die wind gewaai het, en haar renons sedertdien in anysbeskuit. Van die vreemde graffiti agter die toiletdeure het sy so goed as vergeet; die foto van die klein tekeninkie het sy lankal reeds van haar selfoon verwyder.

In Maart duur die hitte en die droogte onverpoos voort. Die son sak reeds heelwat vroeër saans, maar wanneer sy en Willem ná sewe gaan stap, is die lig nog warm op die berg. In die wingerd begin die blare verkleur. Teen die middel van die maand is al die druiwe nog nie geoes nie, die korrels wat oorbly, is klein, sag, en soet.

In die begin van April, op ’n laatmiddag, die wingerd steeds meer aan die verkleur (herfs is laat vanjaar), die laatmiddagson weldadig op haar rug, die skaduwees van die klein klippies voor haar voete net-net aan die verleng, die hond snuiwend tussen die wingerde, Magrieta korrelend aan een van die laaste stroopsoet druiwetrossies, haar hande taai van die druiwesap, gedagteloos, kom daar skielik van agter haar iemand uit die wingerd te voorskyn, gaan voor haar staan en versper haar pad. ’n Vrou. Leliewit. Magrieta het haar nie opgemerk nie. Sy moet skuins van agter uit die wingerd gekom het.

Sy kry Magrieta aan die arm beet, haar gesig naby hare.

“Jy moet verstaan,” sê die vrou, “waaraan ek die afgelope maande onderwerp is, was meer as waarmee ek op ’n daaglikse basis kon cope.”

Die vrou is goed geklee, maar stowwerig en verkreukel, asof sy in haar klere geslaap het. Haar hare is ongeborsel, effens platgedruk aan die een kant. Agter haar word die berge ’n vreemde nier-, of lewer-, of bloedpienk in die laaste strale van die ondergaande son.

“Dit het gevoel of alles daagliks op my kop afdonder: die voortslepende gemor oor die beleërde taal, die kak op die Afrikaanse radio, die woorde van Afrikaanse liedjies. Die nuus wat gelees word asof die Springbok Top 20 aangekondig word. Dit alles kon ek nie meer vat nie.”

Sy kyk voor haar uit, dan weer na Magrieta.

“Ek het besluit ek slaan vir my ’n tent op in die wingerd.” Sy beduie met die hand in die rigting van die wingerd links van hulle. Magrieta kyk, maar sien geen tentjie nie. “My gees is al weke lank in tumult en beroering. Hier, in my tentjie in die wingerd, is die naaste wat ek kan kom aan die wildernis, begryp jy?”

Magrieta knik. (Verdwaas.)

“Nie dat ek myself sien as ’n soort self-styled Johannes die Doper nie, hoor. Allermins. Ek is gewoon nie die sprinkane-en-wildeheuning-tipe nie. Ek het nooit eens die mistici gelees nie – Teresa van Avila en dié mense. Dit het net tyd geword dat ek myself afsonder. Die eerste ding wat ek gedoen het, was om Facebook-selfmoord te pleeg. Dit was moeilik, glo my, dit was baie moeilik om myself van daardie verslawende web los te sny. Die tweede ding was om vir my man te sê: Gáán! Ek gee jou jou vryheid. Jy is nou vry om met jou lewe te maak soos jy goeddink.”

Sy tuur ’n oomblik voor haar uit, draai weer na Magrieta, sit haar hand op haar arm en sê: “Begryp jy?” Weer knik Magrieta.

“Maar die moeilikste,” sê die vrou, “was om my selfoon op te gee. Kyk, as jy dink dit was moeilik om uit die verslawende Facebook-net te ontsnap, sal ek jou sê wat móéilik was. Dit was hél om my smartphone te laat gaan! Die heel nuutste model. Slank, ’n triomf van die tegnologie, met ’n verbysterende hoeveelheid funksies. ’n Mooi objek, perfek van proporsie – mooi soos ’n klassieke Griekse vaas mooi is. Dit was die laaste ding wat ek van my afgewerp het. Ek het dit in die rivier hier onder gegooi. Ek was momenteel verbyster – wat het my in hemelsnaam besiél, het ek gedink. Ek het geweifel, ek het dit oorweeg om die water in te waad om die foon te probeer terugkry. God, het ek gedink – daar gaan my naelstring! Daar gaan die een ding wat my met alles in my lewe verbind! Ek het vorentoe gestrompel, my arms voor my uitgestrek soos ’n blinde. Dit was soos entering darkness, dit was asof ’n deel van my uitgerúk was. Ek het gevoel ek word teruggewerp in ’n soort Middeleeuse donkerte van die gees.”

Die vrou kyk voor haar uit. Magrieta hoor haar sprakeloos aan.

“Daardie foon,” sê sy mymerend, “soggens wanneer ek wakker word, was dit die eerste ding waarna ek my hand uitgesteek het, pas wanneer ek daardie vertroude vorm, die vertroude gewig daarvan, in my handpalm gevoel het, was ek gereed om die dag aan te vat. Saans was dit die laaste ding . . . dit was soos ’n ledemaat, ’n prostese, wat ek vasmaak soggens en afhaal saans. Dit was soos ’n naelstring, ’n lewenslyn, wat my aan die wêreld gekoppel gehou het. Begryp jy?”

Magrieta knik. (Sy hoop vuriglik haar foon lui nie op daardie oomblik en werp die vrou in ’n paniek van bitter berou nie.)

“Maar goed,” sê die vrou, “as jy my sal verskoon. Ek het genoeg gepraat vir een dag. Ek wil juis die stilte in myself opberg soos ’n by sy heuning.”

Haar oë skiet skielik vol trane. Twee groot, warm trane rol oor haar wange en val in die stof voor Magrieta se voete. Hulle kyk albei af daarna.

Toe draai die vrou vinnig om en stap tussen twee rye wingerdstokke weg.

Hierdie boek is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF