NUUS

Beter Afrikaans kry nuwe tuiste by ATKV

Beter Afrikaans het ’n nuwe tuiste by die ATKV gekry, wat beteken dat daar nuwe moontlikhede veral in terme van onderwys vir Beter Afrikaans voorlê.

Die gratis digitale taalspeletjie Beter Afrikaans bestaan al vier jaar en raak ’n al meer onontbeerlike hulpmiddel vir die klaskamer en mense wat hul Afrikaanse taalvaardigheid wil verbeter. Die speletjie is geskoei op die immergewilde Nederlandse weergawe, Beter Spellen, wat intussen tot verskeie ander soortgelyke speletjies gegroei het, waaronder Beter Duits, Beter Frans, Beter Spaans en selfs Beter Bybel – op die oomblik nog almal met Nederlandse teks en verduidelikings.

Dit werk so!

Die speletjie is heel eenvoudig, jy registreer óf op die webwerf www.beterafrikaans.co.za of laai die toepassing op jou slimfoon af, vul jou besonderhede in en siedaar, jy kan dadelik begin. Daar is drie vlakke van maklik – meer gerig op laerskoolleerders, ’n moeiliker vlak – meer gerig op hoërskoolleerders en ’n moeiliker vlak vir mense wat Afrikaans al goed onder die knie het, maar hul kennis steeds wil verbeter. Elke weeksdag kry jy ’n nuwe toets en­ jy sal ’n kennisgewing op jou foon ontvang. As jy nie ’n slimfoon het nie, kan jy steeds deelneem deur op die webwerf te registreer. Jy sal elke dag ’n e-pos kry om jou aan jou volgende toets te herinner. Jy kan egter die toets doen wanneer dit jou pas en dit is nie nodig om vir die e-pos of kennisgewing op jou foon te wag nie. Die vrae dek verskeie aspekte van Afrikaans waaronder idiome, spelling en woordsoorte.

Dié unieke digitale taalspeletjie

Daar bestaan natuurlik soortgelyke taalspeletjies – sommige teen betaling ander ook gratis – maar die een ding wat Beter Afrikaans uniek maak, is dat ons ’n verslag met verklarings oor die korrekte antwoord saam met die toets gee nadat die gebruiker die toets gedoen het. Sodoende leer gebruikers die taalreëls en hoe om soortgelyke vrae in die toekoms te beantwoord – uitstekend vir die klaskamer!

Nog ’n aspek is dat gebruikers in groepe met mekaar kan meeding, byvoorbeeld twee verskillende klasse op skool of ’n groep kollegas by die werk. Dit neem minder as twee minute om ’n toets te doen, wat beteken dat dit feitlik geen invloed op die daaglikse roetine het nie. En dit alles heeltemal gratis.

Danksy ruim skenkings van borge is Beter Afrikaans die afgelope twee jaar aansienlik uitgebrei en word nog gereeld bygewerk. Navrae van gebruikers word ook tydig beantwoord. Ons hanteer egter nie taalnavrae nie, maar enigiemand kan gratis taalnavrae aan die Virtuele Instituut vir Afrikaans, VivA by www.viva-afrikaans.org rig.

Met VivA se ondersteuning sal Beter Afrikaans se diens aan die publiek nog beter word. Ons sal gebruikers deurentyd op die hoogte hou.

Nederlanders doen ook mee

Dit is nie net Afrikaanssprekendes wat hulle taalkennis met Beter Afrikaans toets nie, ’n beduidende getal gebruikers is Nederlanders. Dit is nogal interessant om te sien hoe goed hulle vaar sonder enige voorafkennis van Afrikaans! Afrikaanssprekendes kan natuurlik ook hul kennis van Nederlands op dieselfde manier toets deur hulle aan te sluit by www.beterspellen.nl.

* Om te registreer gaan na www.beterafrikaans.co.za of laai die toepassing op jou selfoon af. Kyk ook gerus na die ander speletjies in die Beter-stal by www.beterspellen.nl.

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF