NUUS

Individue met ATKV-bande skitter by ATR se Kokertoekennings

Die gesogte Kokertoekennings van die Afrikaanse Taalraad (ATR) word slegs toegeken aan sprekers van Afrikaans wat as’t ware die taal bevorder, beskerm of ander sprekers bemagtig.

Vanjaar behoort een van dié ses toekennings aan ’n individu uit die ATKV se stal. Twee van die ander ontvangers is ook nou by die ATKV betrokke.

Die ATKV-tak Centurion se voorsitter, Sakkie Kotzé (op foto), het weggestap met ’n spesiale Kokertoekenning vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaans deur die bevordering van gehalteonderwys en onderwysleierskap.

Sakkie is geen vreemdeling vir die dinamiese kultuurprojekte wat hy en sy tak in Afrikaans en oor taalgrense heen aanpak nie.

“Dit bly ’n voorreg om ons taal op allerlei wyses te bevorder,” sê hy.

“Dit voel wel vreemd om die toekenning te ontvang. Ek was nog altyd aan die gee-kant waar ek toekennings aan presteerders uitgedeel het, en nou ontvang ek self een.

“Ek het dit glad nie verwag nie, maar ek bly beskeie en dankbaar daarvoor.”

Nico Scheepers, dramaturg en regisseur, is met een van die drie jeugtoekennings vereer. Hy is sedert 2010 aktief by ATKV-Tienertoneel betrokke.

“Dit beteken vir my baie om so iets te ontvang vir iets wat ek nie kan help om te doen nie,” sê Nico.

“Toe ek my eerste toneelstuk in Afrikaans agt jaar gelede geskryf het, het ek net besef hoe lief ek vir my moedertaal is en wat ’n voorreg dit is om stories saam met jongmense te kan vertel.

“Dit is ’n bewys dat ek iets reg doen en ek hoop om die vaandel te dra tot ek my laaste asem uitblaas.”

Die kletsrymer YOMA (Claudia Witbooi), wat veral by ATKV-Crescendo as mentor betrokke is, en Sonia Ellie, wat ’n boekwinkel in Eldoradopark besit, het met die ander twee jeugtoekennings weggestap.

Die TV-aanbieder en joernalis Heindrich Wyngaard het die Koker vir die bevordering van Afrikaans ontvang, terwyl prof. Ina Wolfaardt-Gräbe die Koker in die beskermkategorie ontvang het. Die bemagtigingstoekenning het gegaan aan vader Vernon Macaskill Meyer as verteenwoordiger van die Oratorium van Sint Flip Neri van Oudtshoorn.

“Tale is ’n belangrike bate op Suid-Afrika se balansstaat,” het Japie Gouws, voorsitter van die ATR, gesê.

“Ons moet hierdie bate gebruik tot voordeel van alle sprekers daarvan, en ook die waarde van veeltaligheid ontsluit tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.” 

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF