NUUS

Bekende sjef met ATKV-Oorkonde vereer

Reuben Riffel, bekende sjef en restauranteienaar, is Maandag in swierige styl by sy restaurant, Reuben’s, in Franschhoek, met ’n ATKV-oorkonde vereer.

“Dit beteken vir my baie,” sê hy.

“Ek is natuurlik geëerd om so ’n belangrike toekenning te kry.”

Die ATKV-oorkonde word toegeken aan individue wat in hul betrokke velde die Afrikaanse taal en/of kultuur bevorder.

Reuben het nie soos die meeste in sy beroep formele opleiding ontvang nie. ’n Kombinasie van natuurlike talent, harde werk en honderde ure se leer by familielede en beroemde kokke het gesorg vir die sukses wat hy vandag smaak.

Die geheim van Reuben se kossukses lê in eenvoud, ’n strewe na perfekte balans en ’n leergierigheid wat hom gereeld een van sy meer as 250 kosboeke laat nader trek om met iets nuut te eksperimenteer. Harde werk, bitter lang ure en deursettingsvermoë sorg vir die res.  

Reuben is ook die gesig vir Robertson se kruie-en-speseryereeks en het drie kookboeke geskryf.

Die meestersjef sê hy het baie waardering vir die ATKV.

“Ek dink die ATKV speel ’n baie belangrike rol in die beskerming van kultuur en ook ten op sigte van die bewusmaking van ander kulture in ander streke. Dit gee vir my ’n beter sin van ons mense en wie ek is.”

Hy sê hy is steeds besig om die potte te laat prut en verklap dat daar ’n paar projekte in die nabye toekoms voorlê.

“Ek is tans besig met ’n nuwe boek wat ek volgende jaar gaan publiseer. Ek beoog ook om ’n nuwe kosprogram te doen wat reis en motors gaan insluit.”

| Terug

SOEK

KATEGORIEË

ARGIEF