OOR DIE PROJEK:

filmverse1

Die ATKV se opspraakwekkende produksie Filmverse, in samewerking met Diek Grobler, is ‘n projek waarin ‘n reeks kort animasiefilms geskep word wat geïnspireer is deur 'n seleksie van 12 Afrikaanse gedigte.
Klassieke gedigte, asook die werk van kontemporêre digters, word  gebruik word om ‘n "visuele bloemlesing" saam te stel waarin ‘n dialoog tussen woord en beeld geskep word. Elke animasiefilm word vergesel van 'n eie klankbaan waarop die gedig onder andere voorgelees word.

Filmverse 2Die eindproduk is 'n DVD van sowat 30 minute met die twaalf animasiefilms daarop wat as 'n afsonderlike produksie vertoon word. Die DVD-vertoning word vergesel van 'n uitstalling van plakkate van elk van die 12 animasiefilms. 

Artistieke regisseur: Diek Grobler 
Vir die ATKV: Nita Cronjé
 

FILMVERSE 1

belydenis studentedigterklein

Afrikaanse poësie het ’n besonder vindingryke hupstoot gekry met die bekendstelling van Filmverse, ʼn digkuns-animasieprojek wat die ATKV in samewerking met Diek Grobler aangepak het.

Volgens Nita Cronjé, die uitvoerende vervaardiger en ook die ATKV se bestuurder: feeste en produksies, is die oogmerk met Filmverse om leerders ’n nuttige hulpmiddel in die hand te gee om Afrikaanse gedigte ontsluit te kry en om tegelykertyd onderwysers se onderrigtaak te vergemaklik. Maar daarmee saam wil Filmverse ook die animasiebedryf in Suid-Afrika bevorder.

12 Afrikaanse gedigte, geskryf deur digters, van NP Van Wyk Louw tot Ronelda Kamfer, is vir dié projek gekies.

Dit was Diek Grobler, artistieke regisseur van die projek en een van die kreatiewe kragte agter Fopspeen Moving Pictures, se jare lange droom om sodanige forum te skep vir animasiekunstenaars om prente te maak waarin die fokus op dié kunsvorm val.

“Ek wou animasieprente maak in Afrikaans ten einde animasie as medium uit te lig bó die populêre opvatting dat dit maar net kindervermaak is. Ek wou poësie meer sigbaar maak en die diversiteit van die medium uitwys. Ek dink ons het dit hier reggekry.”

Vir elk van die 12 gedigte is ʼn animasiekunstenaar, in sommige gevalle meer as een, aangewys nadat Grobler onder meer in sosiale media animeerders genooi het om by die projek betrokke te raak.

FINISklein

Die gedigte en animeerders is ‘Vroegherfs’ (NP Van Wyk Louw) deur Wessel en Jac Hamman; ‘Bitterbessie dagbreek’ (Ingrid Jonker) deur Roger en Dewald van der Merwe; ‘Finis’ (Lina Spies) deur Michele Nigrini; ‘Jy vra my hoe my eerste soen was’ (Danie Marais) deur katty vandenberghe, Anni Snyman en Eugenie Grobler; ‘Belydenis van ’n studentedigter’ (Loftus Marais) deur Rudolph Boonzaaier; ‘Visioen van ’n lessenaar’ (Antjie Krog) deur Sunieda Kelber en Fabian Wargau; ‘Die skedel lag al huil die gesig’ (Wilma Stockenström) deur Crowther Lindeque; ‘What abou' de lô’ (Adam Small) deur Charles Badenhorst; ‘Last Grave at Dimbaza’ (Fanie Olivier) deur Stefanie de Beer; ‘’n Gewone blou Maandagoggend’ (Ronelda Kamfer) deur Naomi van Niekerk en Arnaud van Vliet; ‘Timotei Sjampoo’ (Gert Vlok Nel) deur Janhendrik Burger en Berdene du Toit; en ‘Ek sal sterf en na my vader gaan’ (Breyten Breytenbach) deur Diek Grobler.

Die Skedel Poster Final klein

Filmverse is plaaslik op drie kunstefeeste in die kategorie: Beste Visuele Kunste-aanbieding benoem.

Op internasionale vlak het dié projek puik gevaar: Naomi van Niekerk, een van die animeerders, het op die 2016 Annecy-animasiefees, die grootste internasionale animasiefees ter wêreld, die prys ontvang vir “beste eerste film” vir haar animasie van Ronelda Kamfer se “ʼn Gewone blou Maandagoggend”. Charles Badenhorst was met Adam Small se “What abou’ de lô” die wenner van die Weimar-poësie-filmprys in Duitsland en het ook ʼn spesiale jurieprys vir dié animasie gekry op die Festival Silêncio in Portugal. Boonop is van Filmverse op animasiefeeste in Rusland, Nederland, Frankryk en Portugal vertoon.

Die Filmverse-DVD kos R100 en kan bestel word by Hannelie van Schalkwyk by 011 919 9012 of stuur e-pos na hanneliev@atkv.org.za.

FILMVERSE 2

Filmverse 2

Filmverse 2, die tweede aflewering van die digkuns-animasieprojek wat die ATKV aangepak het in samewerking met Diek Grobler, is by verlede jaar se kykNET-Silwerskermfees in Kampsbaai bekend gestel .

Twaalf Afrikaanse gedigte is deur 12 animasiekunstenaars, of groepe kunstenaars, geanimeer en daarna is dié 12 gedigte ook vertaal en die klankbane van die animasiefilms oorgeklank in Engels, Zoeloe en Sesotho. 
Diek Grobler is die kreatiewe regisseur en die uitvoerende vervaardiger vir die ATKV is Nita Cronjé.

GEEL WALVIS

  • Die 12 gedigte is Jeanne Goosen se “My mamma is bossies”, geanimeer deur Naomi van Niekerk;
  • Nathan Trantraal se “Geel walvis”, geanimeer deur Alida Bothma;
  • DJ Opperman se “Stad in die mis”, geanimeer deur Jac en Wessel Hamman;
  • Elisabeth Eybers se “Busrit in die aand”, geanimeer deur Arnaud van Vliet:
  • Andries Bezuidenhout se “Perron”, geanimeer Marinda du Toit en Tessa Louw; 
  • Boerneef se “Die berggans het ʼn veer laat val”, geanimeer deur Erentia Bedeker;
  • Heilna du Plooy se “Afrikaan in Nederland”, geanimeer deur Hanno, Dewald en Roger van der Merwe;  
  • Martjie Bosman se “Nagte in die tuine van Spanje”, geanimeer deur Theresa Jo Wessels;
  • Joan Hambidge se “Smoke gets in your eyes”, geanimeer deur katty vandenberghe en Anni Snyman;
  • Marlise Joubert se “Groet”, geanimeer deur Charles Badenhorst;
  • Johann de Lange se “Wisseling”, geanimeer deur Michéle Nigrini;
  • Ronelda S Kamfer se “Vir die voëls”, geanimeer deur Diek Grobler.  

Soos met Filmverse verlede jaar is die oogmerk met dié projek om ʼn forum te skep vir onafhanklike animasie in Suid-Afrika; om Afrikaanse poësie meer sigbaar en toeganklik te maak; en om  animasiefilms van internasionale gehalte te maak. 

Afrikaan in NederlandFilmverse 2 het ​‘n Kanna-benoeming vir Beste Visuele Kunste aanbieding, 2017, ontvang.

Van die digkunsanimasies is ook by verskeie internasionale rolprentfeeste vertoon, bv.:

"Vir die voëls" is op die Zebra Poetry Film Festival in Munster, die Rabbit Heart Poetry Ffilm Festival in Worcester, Massachusetts, en die Twisted Oyster Film Festival in Chicago vertoon.

"Die berggans het ’n veer laat val" van Erentia Bedeker was deel van die amptelike seleksie van die Cortoons Festival Gandia, in Gandia, Valencia. 

"Smoke gets in your eyes" is vir die Twisted Oyster Film Festival in Chicago gekies en "My Mamma is bossies" van Naomi van Niekers was te sien by die Animafest Zagreb, Holland Animation Film Festival, en die Annecy International Animation Film Festival 2017.

WisselingFilmverse 2 is te sien by die volgende feeste vir die res van 2017:

  • Hermanus FynArts (9 – 17 Junie)
  • Grahamstad Nasionale Kunstefees (30 Junie, 1 – 3 Julie as deel van die Think!Fest by The Monument)
  • Innibos (5 – 8 Julie, by die ATKV-Boeke-oase in die Hoërskool Nelspruit se nuwe kultuursentrum)
  • Vrystaat Kunstefees (17 – 22 Julie, by die ATKV-Boeke-oase in die Eeufeesgebou).

Navrae kan gerig word aan:
Hannelie van Schalkwyk: hanneliev@atkv.org.za of 011 919 9012, vir DVD-aankope en -bestellings.

Klik hier om die bestelvorm af te laai.