ATKV/Kuier-gedigtekompetisie 2017

Trek jou pen en papier nader, want dit is weer tyd vir ATKV en Kuier se gedigtekompetisie. Alle aspirantdigters, jonk en oud word aangemoedig om deel te neem en om hul kreatiwiteit in Afrikaans met ons te deel.

Daar is groot kontantpryse op die spel en jou gedig sal in Kuier gepubliseer word.

Die prysgeld in die senior kategorie (volwassenes ouer as 18 jaar) is soos volg:

Eerste plek: R5000
Tweede plek: R4000
Derde plek: R3000

In die junior kategorie (graad 8 tot graad 12-leerders) lyk die pryse so:

Eerste plek: R3000
Tweede plek: R2000
Derde plek: R1000

Die kompetisie sluit om 30 Junie stiptelik om 12:00.

Vir meer inligting klik hier.

Hemelbesem dra ATKV/Kuier-wengedig voor

Ná die ongelooflike sukses van die ATKV se gedigtekompetisie in samewerking met die tydskrif Kuier het die groot oomblik uiteindelik aangebreek om die video van die wengedig, “Anatomie van liefhê” deur Karen van Vuuren, bekend te stel! 

Die ATKV bied reeds vanaf 2010 die gedigtekompetisie en het Kuier genader as mediavennoot in vanjaar se gedigtekompetisie.

Die algehele wengedig, “Anatomie van liefhê”, deur Karen van Vuuren van Bloemfontein is gekies uit byna 5 000 inskrywings wat van regoor die land ontvang is.

Bekende digters soos Ronelda Kamfer en Jo Prins het gehelp om die wenner te kies en hulle was verstom oor die aantal én gehalte van die inskrywings. Dié kompetisie het beslis gewys mense wil kreatief in Afrikaans wees. 

Karen het R5 000 kontant met haar wengedig losgeslaan, maar dis nie al nie. As deel van haar prys het Simon Witbooi, beter bekend as HemelBesem, haar gedig voorgedra en dit is op video vasgelê.

Hou die ATKV se webwerf dop vir meer inligting as jy nog altyd daarvan gedroom het om gedigte te skryf, want die nuwe gedigtekompetisie word in die nuwe jaar aangekondig met kategorieë vir oud en jonk.

ATKV/Kuiergedigtekompetisie 2016: Wenners

Senior kategorie
1ste plek: Karen van Vuuren, Anatomie van liefhê 
2de plek: Irene Raath, Fyn porselein
3de plek: Wentzel Lombard, Die Rivier 

Junior kategorie
1ste plek: Naomi Wilson, Hellington: Someraand 
2de plek: Inge Delport, Ma 
3de plek: Jay-Dene Paulse, ’n Weeskind 

Wengedigte

Karen van VuurenSenior kategorie

Anatomie van liefhê
Deur Karen van Vuuren

Tussen die bande van my DNA lê jy verstengel in my selle,
maar jy ontsnap
tot in my bloedvate, wat jou terugpomp na my hart
Linker atrium, trikuspedale klep, linker ventrikel
en met pulmonale arterie na my longe
waar ek jou diep in my intrek
want jy is soos woorde,
nodig vir asemhaling.
Kortstondig brand jy in my borskas
en hammer aan my hartskamers
waar ek wens jy wil langer woon
my aorta dra jou afwesigheid na elke klier, spier en sensoriese senuwee
en ek hunker na jou teenwoordigheid.


Naomi Wilson 1Junior kategorie

HELLINGTON: Someraand
Deur Naomi Wilson

Die laatmiddag het 'n miernes geword
die taxi's wat naby toet
en 'n raserige-gitswart-kriek
wat desperaat sy maatjie roep.

En rook uit die plakkerskamp borrel
en by Zu Bar sit en sing
en kinders in fleur-de-lis sweet
en vlammende skemer in.

Doer flikker Paarl se liggies al
loop lorries verdowend naby
oujongnooi-onnies se leibande die honde delegeer
en om die groot skoen marsjeer.

Oom Andrew se hart is sekerlik seer in siel en gees
want sy het lieve Wellington wil eerder Babel wees.