LEESKRINGE IN DIE NOORD-KAAP

Hierdie unieke leesprojek van Anzil Kulsen bedien sowat 20 gemeenskappe in  die Noord-Kaap en het veral gaan soek na gemeenskappe waar daar nie toegang tot biblioteke is nie. Die verste leesgroep is in die Kalahari by Noenieput en Swartkopdam. Andersins sluit dit plekke in soos Karos, Kameelmond, Vredesvallei en Augrabies in. Daar is ook lesers in Korrektiewe Dienste en Anzil werk soms met die manlike jeugdiges en meestal die vroue in Korrektiewe Dienste. Sy doen ook soms kreatiewe skryfkunswerkswinkels met die groepe, en het op die manier al drie bundels met die leesklublede se verhale en gedigte in samewerking met LAPA Uitgewers saamgestel, asook die Namakwalandse bundel. Die Namakwalandse bundel was 'n unieke projek om sodoende hierdie deel van die Noord-Kaap te bereik en hul stories op te teken. Dis voorafgegaan deur 'n skryfwerkswinkel en 'n kortverhaalkompetisie.

Die hoofdoel van die leeskringe in die Noord-Kaap is om lees en skryf te bevorder, maar dit het ook 'n impak op die sosiale ontwikkelling van die deelnemers en lewer beslis 'n bydrae tot hul toenemende besef van eiewaarde. Lesers se woordeskat en leessmaak het oor die afgelope vyf jaar wat die projek aan die gang is, verbeter en verander. 'n Groot groep het ook hul kwalifikasies verbeter en heelwat wat voorheen werkloos was, is nie meer tevrede met die afhanklikheid van staatstoelae nie, maar het hulself tot die arbeidsmark toegevoeg.

Dit is 'n vreugde om deel van die holistiese groei vam 'n gemeenskap te wees. Met 'leesfeeste' tydens skoolvakansie word ouers en tieners betrek en waar daar kleuters is word soveel moontlik klem geplaas op die ontwikkelling van die kind se leesvaardighede deurdat die moeder vir haar kind voorlees. Lees raak soms 'n ontvlugting vir die mamma dat sy vergeet van haar kind se behoefte aan boeke, veral in armer gemeenskappe waar maatskaplike euwels kop uitsteek.

Wil jy graag betrokke raak? Skakel dan met Anzil Kulsen by anzilk@atkv.org.za

LEESKRINGE IN DIE RES VAN SUID-AFRIKA

Anzil Kulsen se leeskringe in die Noord-Kaap is al baie bekend en die ATKV-taalafdeling het besluit om dit verder in die land uit te brei met die doel om die liefde vir lees in Afrikaans te bevorder. Daar is nou leeskringe ook in Atlantis, Uitenhage en Onverwacht.

Wil jy ook 'n leeskring in jou gemeenskap begin? Skakel dan gerus met René Zietsman by 011 919 9094 of renez@atkv.org.za

Nuus

Page 1 of 8 FirstPrevious [1]2345 Last

Galery