Werkswinkels vir Afrikaansonderwysers

Die ATKV-taalafdeling bied ondersteuning aan Afrikaansonderwysers deur middel van dagwerkswinkels wat nasionaal aangebied word. 

Skitter in Afrikaans!
Die Skitter-in-Afrikaans!-projek gaan sedert 2012 van krag tot krag. Verrykende werkswinkels word landwyd aangebied met die doel om Afrikaansonderwysers te ondersteun met betrekking tot alle taalkwessies in die klaskamer.  

Daar is vanjaar ’n nuwe toevoeging tot die Skitter-in-Afrikaans-werkswinkels. Werkswinkels gaan die eerste keer ook vir die onderwysers in die senior fase (graad 7 tot graad 9) aangebied word. In die verlede is daar hoofsaaklik op die grondslag-, intermediêre en VOO-fase gefokus. Vanjaar sal die werkswinkels egter vir die grondslag-, intermediêre en senior fases (Afrikaansonderwysers vir graad 1 tot graad 9) aangebied word. Die VOO-fase (graad 10 tot graad 12) word nie afgeskeep nie en daar word vir hulle op ’n aanlyn platform voorsiening gemaak waar VOO-Afrikaansonderwysers hulpmiddels rakende voorgeskrewe tekste, taal en meer kan aflaai.  

Afrikaansonderwysers (graad 1 tot graad 6) kan uitsien na temas soos leesbegrip-vaardighede en -strategieë vir leerders, remediërende onderrig en die inklusiewe klas. Daar sal onder meer gefokus word op kinders met leer- en leesprobleme soos hiperaktiwiteit, aandagtekort-hiperaktiwiteit-versteuring, emosionele probleme en meer. Kundiges soos onder andere dr. Annalize Green sal onderwysers help deur hulle toe te rus met kreatiewe idees, nuwe vaardighede en kennis en praktiese oplossings vir uitdagings in die klaskamer.

Afrikaansonderwysers in die senior fase sal by kenners soos Betsie Klopper, prof. Johan Anker, Annali Venter, dr. Donovan Lawrence en Marelize Swanepoel meer leer oor die volgende temas:

  • Opstel van vraestelle met taksonomieë 
  •  Kreatiewe skryfwerk beplanning, uitvoer en formate 
  • Letterkunde in die senior fase
  • Taalaanbieding vir EAT-leerders
  • Selfoontoepassings vir grammatika- en woordeskatontwikkeling

Die datums van die werkswinkels in 2017 is soos volg:

4 Maart 2017 – Gauteng (Germiston)
11 Maart 2017 – Noordwes (Potchefstroom)
13 Mei – Vrystaat (Bloemfontein)
4 November 2017 – Mpumalanga (Nelspruit)

Hou ons web- en Facebook-bladsye dop vir meer inligting of kontak vir Rozeldi Trollip by 011 919 9006 of RozeldiT@atkv.org.za.