WIE IS DIE VRIENDE VAN AFRIKAANS

Ons is ’n groep mense wat werk vir Afrikaans. Ons is nie polities, seksisties, rassisties of godsdiensvoorskriftelik nie. Kortom, almal wat  met ons wil saamwerk, is hartlik welkom.

Waar kom ons vandaan? Vanjaar, 21 jaar gelede, het ’n klein groepie Afrikaanssprekendes  hierdie vereniging op 8 Februarie 1994 in Stellenbosch gestig onder die ywerige leiding van mnr Willem Dempsey (op sy dag 'n dosent, senator, burgemeester en oud-ambassadeur) en prof Johan Combrink, ’n bekende taalkundige en ’n vurige kampvegter vir Afrikaans. Hy het die VVA se hoofkantoor in Stellenbosch gevestig. Johan se geesdrif en ywer vir Afrikaans was aansteeklik, ook omdat hy Afrikaans meesterlik kon gebruik.

Na sy dood op 25 Julie 1999 is sy werk deur sy vrou, dr Louise Combrink, voortgesit tot en met die insluiting by die ATKV in Sept 2014. Sy is ondersteun deur  'n Spitsraad, 'n woord wat Johan gebruik het vir die ywerige vrywilligers wat vir 21 jaar onbaatsugtig vir Afrikaans gewerk het.

Waarvoor staan ons bekend? Ons vlagskipprojek is ons boektrommels vol heerlike boeke wat by verdienstelike skole en kleuterskole besorg word, ons nuusbrief (Doendinge vir Afrikaans) en maandelikse e-nuusbrief en ook ons voorleesprojek wat die belang van voorlees in elke Afrikaanse huis wil tuisbring.

Ons gaan hierdie jaar ses prettige slypskole organiseer om o.a. onderwysstudente te help om tweedetaalsprekers van Afrikaans te inspireer; ons gaan 20 voorleeswerkswinkels landwyd aanbied om ouers aan te moedig om vir hulle kinders (en sommer vir die kinders in hulle buurt) stories voor te lees. In die proses hoop ons om 30 boektrommels te kan uitdeel. (Terloops, wat 'n lekker projek vir 'n ondernemende tak!)

Ons het 'n hele aantal lekker "produkte" om te koop - dit sal nog in hierdie jaar op die ATKV se virtuele platform te koop wees, maar op die oomblik is dit nog by ons te koop.   

Wie doen hierdie werk? Amanda de Stadler (amandad@vva.atkv.org.za) en Chareldine van der Merwe (chareldinev@vva.atkv.org.za). Kontak ons asseblief met raad en daad - daarvan het ons nooit genoeg nie!

 

Die simboliek van ons logo

Die bekende kunstenaar, Piet Grobler, het die boompie as logo vir ons geskep omdat ons die eienskappe van geworteldheid, groei en lewe met Afrikaans vereenselwig. Die rooi deel van die stam het Piet gebruik enersyds omdat rooi die kleur van lewe is, maar dit is ook ’n speelse verwysing na die rooi akkerbome van Stellenbosch, die geboorteplek van die Vriende van Afrikaans.

Nuus

  • Maak ’n verskil en ondersteun die boektrommelprojek
  • Veels geluk, liewe Afrikaans!
  • BOEKE VIR HAWELOSE KINDERS
Page 1 of 2 FirstPrevious [1]2 Last

Dokumente

Galery