Skip to main content

ATKV-takke – jou kultuurtuiste in elke dorp en stad.

Sluit aan by ’n ATKV-tak naby jou en word deel van meer as 4 000 vrywillige ATKV-lede wat ’n positiewe verandering in lewens en in gemeenskappe maak.

ATKV-takke arbei daagliks met verskeie projekte wat fokus op die bevordering van Afrikaans, die viering van die kunste, leesbevordering, omgewingsbewustheid, sosiaal-maatskaplike projekte en nog vele meer!

Deur aan te sluit by ’n ATKV-tak verryk jy jouself nie net nie, maar kwalifiseer ook vir ’n addisionele lidvoordeel – TJIENGELIENG. Tjiengelieng kan aangewend word as ekstra korting by ’n ATKV-oord, of jy kan jou boekrak aanvul deur boeke aan te koop by Exclusive Books.

Lees hieronder om te sien watter wonderlike werk ons takke doen in ons gemeenskappe.

Voedselnood en selfonderhoudbaarheid is 'n kritieke realiteit in Suid-Afrika.

Daar lê soveel wysheid opgesluit in die gesegde wat ons leer dat wanneer jy vir iemand 'n vis gee, hy kos het vir daardie dag, maar wanneer jy hom leer om vis te vang, hou jy sy maag vir 'n leeftyd vol.
Dieselfde beginsel was die inspirasie vir die ATKV se groentetuinprojek wat in 2023 reeds sy derde jaar vier.

Die groentetuinprojek verskaf tuinmaakbeginstelle aan takke en individue, waarmee 'n volhoubare organiese groentetuin aangeplant kan word. Intensiewe praktiese en teoretiese opleiding word aangebied. Hierdie opleiding is van onskatbare waarde vir diegene wat beoog om groentetuine van die grond af te kry.

Takke dien as die ATKV se vennote om die tuine se implementering, instandhouding en volhoubaarheid te verseker. Groentetuine word meestal aangeplant en oeste word onder andere by ouetehuise, huishoudings en hul bure, sopkombuise, skole se voedselskemas, koshuiskombuise en plaaslike gemeenskapsinstansies gebruik.

Takke word versoek om deurlopend terugvoer te gee oor die tuine se vordering, uitdagings asook enige verdere terugvoer wat die projek in die toekoms kan verfyn.

In Augustus 2023 spog ATKV-takke en netwerke in gemeenskappe met 199 volhoubare groentetuine, en 14 intensiewe opleidingsessies wat reeds regoor die land plaasgevind het.

Om meer uit te vind, kontak gerus u streeksbestuurder.

Emmie en haar vreemde ouma Bassie het 'n reuseprobleem!

Wat maak 'n mens met 'n dinosourus in jou slaapkamer? En hoe kry 'n mens daardie dinosourus weer terug by sy huis?

Met kleurvolle karakters en lekker loslitliedjies neem die kinderteaterstuk jonk en oud op 'n verbeeldingsvlug.
Interaktief en kreatief, met 'n lessie daarby: lees is baie belangrik en baie lekker.

Dinosourusse kan nie lees nie is deur die bekende teatermaker en aktrise, Ilne Fourie, geskryf.

Met hierdie temaprojek word ATKV-takke voorsien van 'n propvol gereedskapskis waarby die volgende onder andere ingesluit is:

  • Teks en video-opname van produksie
  • Kostuum, grimering en karakteriseringbeskrywings
  • Regisseurkommentaar
  • Bemarkingsmateriaal, kunswerke en ontwerpe
  • Liedjies
  • Klankeffekte
  • Tegniese hulpmiddels.


Hierdie projek stel dus die kleinspan bloot aan prettige teater, fokus op die lekkerte van lees, en bied ook vir skole/plaaslike teatergroepe die geleentheid om hul akteursvernuf op te skerp.

Om meer uit te vind, kontak gerus u streeksbestuurder.

PIRLS (Progress in International Reading Literacy Study) se skokkende resultate wat op 16 Mei 2023 gepubliseer is, is nog vars in almal se geheue.

81% van graad 4-leerders in Suid-Afrika kan nie in enige taal met begrip lees nie, insluitend hul huistaal!

Leesvaardigheid is 'n kritiese probleem in Suid-Afrika. As jy nie kan lees nie, kan jy nie op enige vlak van die lewe presteer of floreer nie.

ATKV-EkKanLees is 'n leesbemagtigingsprojek wat ten doel het om takke en strategiese vennote uit gemeenskappe op 'n nasionale vlak by leesontwikkeling betrokke te kry.
Takke identifiseer individue in hul gemeenskappe wat deur die ATKV bemagtig en as leesfasiliteerders opgelei kan word. Hierdie leesfasiliteerders bied dan ondersteuning aan leerders in die grondslagfase (grade 1 tot 3) wat leesagterstande ervaar.

ATKV-EkKanLees vat graag hande met die volgende vennote:

  • Rinkink terwyl jy dink - 'n Remediërende leesmodel, ontwikkel deur Leandré Steyn
  • Die Tippie-leesmateriaal en Curious Readers-platform, ontwikkel deur Reinette Lombard en José Palmer
  • Vriende van Afrikaans ('n afdeling van die ATKV)


Takke met leesfasiliteerders in hul gemeenskap speel 'n oorsigrol en help fasiliteerders om kwartaalliks terugvoer te gee oor die impak in terme van leesontwikkeling en bemagtiging deur hierdie projek sodat evaluering en impakmeting kan geskied. In Augustus 2023 spog ATKV-takke en -netwerke in gemeenskappe alreeds met 244 leesfasiliteerders.

Om meer uit te vind, kontak gerus u streeksbestuurder.

Sluit aan by ’n ATKV-tak en belê werklik in jouself, belê in jou toekoms en wees die verskil.

By die ATKV se takafdeling word Afrikaans nie net beleef nie – hier word dit gelééf! Van die oggend tot die aand, van biltong tot beskuit, van Ingrid Jonker tot Koos Kombuis, van Otjiworongo tot Oos-Londen, van Prieska tot Pacaltsdorp.


Hier is kultuur ’n passie wat nie net by ’n hartsding bly nie, maar vinnig in doen-dinge verander. Elke dag voeg ATKV-takke die daad by die woord met ’n program propvol landswye aktiwiteite en projekte.


Natuurlik word dit gedoen vir die pure toonkrul-lekkerte, maar ewe belangrik gaan dit oor die gebruik van kultuur om mense wyd en syd toe te rus met die vaardighede en kultuurdiepte om die land van rugby en sonskyn uit te bou tot die land van hoop en geleenthede!


Ons weet dat Afrikaanssprekendes plesierig is en daarvan hou om te kuier en dinge saam te doen – nie net binne gesin- of skoolverband nie, maar ook as vriende. Die ATKV-takke bestaan uit vrywillige ATKV-lede vir wie kultuurbeoefening so lekker is soos ’n yskoue gemmerbier op ’n snikhete dag! Terwyl jy in Afrikaans kuier, leef en sommer alles doen, ontmoet jy boonop wonderlike mense wat ’n positiewe verskil in jou lewe en in gemeenskappe kan maak.