Skip to main content

Skrywer van Steinhoff-boek oor wat hy vir Markus Jooste sal wil vra

Die Steinhoff-sage het skokgolwe deur die land gestuur. Op Dinsdag 5 Desember 2017 was dié magtige maatskappy, waarvan Markus Jooste die grootbaas was, nog R193 miljard werd. Binne 24 uur is meer as R117 miljard uitgewis.

Die domino’s het een vir een omgeval toe Markus met onmiddellike effek bedank en bewerings van bedrog op die lappe gekom het.

Dit was geen geheim dat iemand ’n boek sou skryf oor een van die grootste finansiële skandale in Suid-Afrikaanse geskiedenis nie en die bekende skrywer en finansiële joernalis James-Brent Styan het dit sy taak gemaak om die tergende vrae te beantwoord.

In Steinhoff en die Stellenbosse Boys (LAPA Uitgewers) probeer James om sin uit die chaos te maak. Van ’n minnares van Markus wat in weelde en rykdom leef tot wat en wie die “Stellenbosch-mafia” is.

“Ek was by die werk en het die nuus op sosiale media en toe op nuuswebwerwe gesien,” onthou James die dag toe die storie gebreek het.

“My reaksie was een van verbasing en die gebeure het my belangstelling geprikkel. Ek het in daardie stadium nog nie veel van Steinhoff en sy aktiwiteite geweet nie en nog minder oor die omvang van die ineenstorting. Dit sou in die dae daarna volg.”

Hy sê hy het nie aanvanklik gedink dat hy ’n boek oor Steinhoff sou skryf nie.

 “Ek het vermoed iemand sou ’n boek skryf. Die storie leen hom daartoe.

“Ek het pas my tweede boek oor Chris Barnard en die eerste hartoorplanting publiseer, so ek was redelik moeg. Dit het so teen Januarie 2018 verander toe my nuuskierigheid na die hoogste versnelling oorgeskakel het.”

Volgens James is dié sage nog lank nie verby nie, maar hy het gevoel hoe gouer die vrae beantwoord word, hoe beter.

“Daar is daagliks nuwe dinge wat uitkom en dit gaan nog maande en jare neem voordat alles uitgeklaar sal wees.”

Vir hom was die grootste uitdaging om bronne te kry wat hom sou vertrou en met die hele sak patats vorendag sou kom.

“Daar was baie mense wat slegs anoniem met my gepraat het, maar ek was gelukkig om goeie onderhoude met sleutelfigure soos dr. Christo Wiese op die rekord te doen.”

As James vandag ’n onderhoud met Markus Jooste kon doen, is daar ’n paar vrae wat hy aan hom sou wou stel.

“Die eerste is of hy dink hy het enigiets verkeerd gedoen.

“Die tweede is, indien hy onskuldig is, wat het dan gebeur en hoekom het hy die groep net so verlaat met al die probleme wat gevolg het?”

Steinhoff en die Stellenbosse Boys is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels en www.lapa.co.za.