Skip to main content

1000 kleuters kry boeke danksy Nederlander se skenking

Die barmhartigheid van een man strek tot by die land van tulpe en windmeule.

Prof. Carel Jansen (links), ’n afgetrede dosent in die departement kommunikasie- en inligtingstudies aan die Groningen-Universiteit in Nederland, het oor die afgelope paar jaar meer as R250 000 ingesamel om Suid-Afrika se kinders aan die lees te kry.

Hy het onder andere studentegroepe, organisasies en individue aangespoor om by te dra tot die Vriende van Afrikaans (VVA) se boektrommelprojek.

Prof. Carel en sy vrou het op hul 25ste troudagviering die gaste gevra om nie geskenke te bring nie, maar wel ’n koevert met ’n bydrae vir die trommels.

Hy het nou weer met sy aftrede (Nederlanders hou dan ’n groot partytjie) sy gaste vir ’n bydrae vir die trommels gevra. Met hierdie geleentheid het hy R55 000 ingesamel.

“In enige land is dit baie belangrik dat daar ’n mate van geletterdheid moet wees,” sê hy.

“Enige landsburger moet argumente en standpunte kan vorm en oor goeie leesvaardighede beskik.”

Carel kom sedert 2002 twee maal per jaar na die Universiteit Stellenbosch om klas by die US Taalsentrum in dokumentontwerp te gee.  

 

Dit is hier waar sy pad met Amanda de Stadler (links), bestuurder van die VVA, gekruis het.

“Ek het van dié fantastiese projek te hore gekom en dadelik besluit om ’n bydrae te lewer. 

“Dit is vir my lekker om te weet ek kan help om iemand se honger vir lees te stil,” sê hy.

Volgens Amanda gaan ongeveer ’n 1 000 kleuters van verskeie kleuterskole by hierdie skenking baat.

“Danksy kollegas en vriende van Carel wag sewe kleuterskole op boektrommels vol heerlike, nuwe prenteboeke vol stories,” sê Amanda.

“Dit is ’n lewensveranderende weldaad in baie van hierdie kinders se lewens.”

Volgens May Ellen Chase is daar geen plaasvervanger vir boeke in die lewe van die kind nie. Die realiteit is egter dat baie kinders in Suid-Afrika nie toegang tot boeke het nie. Meer as 70% van ons land se skole het nie biblioteke nie. As ’n kind nie by die skool kan lees nie en daar ook nie by sy ouerhuis boeke is nie – waar gaan hy/sy bekend gestel word aan die wonderwêreld wat net die lees van boeke kan oopsluit?

Vriende van Afrikaans (VVA) wil met hul boektrommelprojek die behoefte aan lees op voorskoolse vlak deur middel van ’n unieke boektrommelprojek aanspreek. Die VVA skenk al sedert 2006 aan skole boeke of trommels vol boeke as daar nie ’n bestaande biblioteek is nie. 

‘n Trommel met tussen 90 en 110 boeke geskikte boeke (deur Biblionef) kos R8 000.

Die bankbesonderhede indien jy ’n bydrae wil maak, is soos volg:

Bank: ABSA BANK
Rekeningnaam: ATKV
Rekeningnommer: 0170166728, Tjekrekening
Takkode: 632005    
Vir buitelandse inbetalings gebruik die volgende “Swift Code”: ABSA ZA JJ. Gebruik asb "VVA Boektrommels" as verwysing.

Die Vriende van Afrikaans is ’n divisie van die ATKV.

Vir meer inligting oor hul werksaamhede kontak vir Amanda de Stadler (amandad@vva.atkv.org.za) of Chareldine van der Merwe (chareldinev@vva.atkv.org.za).