Skip to main content


Jannie du Toit se sangloopbaan lê soos ʼn goue draad wat die afgelope 50 jaar deur die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musieklandskap kronkel. As deel van die Musiek- en Liriekbeweging van die laat sewentigs het hy nog altyd daarna gestreef om musiek en lirieke in Afrikaans met mekaar te laat trou. Alhoewel hy aanvanklik deel was van die folk musiekgroep, Trilogie, wat in 1976 met hulle liedjie “Droom langs stille water”, ʼn vermeldingsprys op die American Song Festival gewen het, het hy uiteindelik as solokunstenaar begin werk, juis omdat musiekmaak die ding is wat hy vir die res van sy lewe wil doen. Dit was veral “ʼn Liedjie vir jou” wat hy in 1978 geskryf het, wat mense met ʼn waardering vir die luisterlied regop laat sit het en aan hom ʼn platekontrak besorg het. Jannie het nie altyd net by Afrikaanse musiek gebly nie, maar het ook gereeld die musiek van Europese kunstenaars soos Jules de Corte en Jacques Brel in kabaretkonserte gesing.

Aan die begin van 2021 het Jannie besluit om op verskeie wyses dankie te sê vir die vreugde van 50 jaar se musiekmaak. Hy het ʼn program saamgestel:  beSTEMmings , waarmee hy op verskeie plekke deur die land toer. BeSTEMmings is propvol oorspronklike Afrikaanse musiek wat hy en sommige van sy kunstenaarsvriende oor die jare gesing het.

Jannie het ook hard aan ʼn televisiereeks van 13 episodes gewerk, met die titel ʼn Liedjie vir jou. Dit word vanaf September 2021 op kanaal 146, kykNET NOU!, uitgesaai. In hierdie reeks kan ʼn mens Jannie se volledige musikale reis meemaak.

Daar was egter nog ʼn ander projek waarvan Jannie deur die jaar bly droom het. Nadat Karen Zoid in 2018 sy “ʼn Liedjie vir jou” vir haar program opgeneem het, met ʼn bietjie rock en blues daarby, het hierdie ikoniese liedjie behoorlik ʼn nuwe baadjie aangehad. Vele jongmense het vir die eerste keer van die liedjie kennis geneem. Dit het as Jannie se inspirasie vir ʼn heerlike kompetisie met ’n fokus op die musiek wat hy oor die jare geskryf het, gedien.

Jannie vier op 13 Desember 2021 sy 70ste verjaarsdag en op die spesiale dag skop die kompetisieʼn Nuwe Baadjie, af. Jannie bied hierdie kompetisie in samewerking met die ATKV aan. Hierdie kompetisie is gemik op musikante van 35 jaar en jonger. Die idee is dat hulle een van Jannie se liedjies neem en daarvoor ʼn nuwe baadjie aantrek. Op die webblad, www.nuwebaadjie.co.za, is daar 50 MP3’s van Jannie se liedjies waarmee jong kunstenaars dan kan rondspeel soos hulle wil om aan Jannie se liedjies ʼn ander kleur te gee.  

“Ek wil graag hê jong musikante moet my liedjies transformeer. Hulle mag net nie die woorde verander nie, maar hulle mag dit ʼn jazz-, rock- of blues-klank gee. Hulle kan selfs a capella weergawes of instrumentele weergawes inskryf. Hier het die kunstenaar totale vryheid. Daar is tyd tot en met Vrydag 13 Mei om hierdie produk af te rond en ʼn MP3 aan ons te stuur. Ons gaan hierdie hele projek op sosiale media dryf, sodat mense gereeld kan hoor en sien wat aan die gebeur is. Selfs musikante in die buiteland wat sterk Afrikaanse wortels het, mag deelneem. Die totale prysgeld in hierdie kompetisie is ʼn heerlike R50 000, wat ʼn stewige hupstoot vir enige jong kunstenaar kan wees,” verduidelik Jannie.

Daar sal uiteindelik 12 finaliste aangewys word, deur ʼn reeks beoordelaars in samewerking met mense se stemme op sosiale media. Hierdie 12 sal die geleentheid kry om ʼn werkswinkel wat oor twee dae strek, by te woon. Tydens die werkswinkel, sal Jannie en van sy kunstenaarsvriende die deelnemers help om hulle weergawe te verfyn en gereed te kry vir die gala-aand, waar elke finalis die geleentheid sal kry om dit voor ʼn gehoor op te voer.

Vir Jannie was die geleentheid om saam met die ATKV aan hierdie projek te werk, ʼn logiese keuse. In 1974 en 1975 was die sanggroep waarvan hy deel was, Trilogie, finaliste in die ATKV se Crescendo-kompetisie. Saam met Christa Steyn, Lucas Maree en Johan van der Watt het Jannie vir 15 jaar lank liedjieskryfwerkswinkels onder die vaandel van die ATKV aangebied. Dié werkswinkels het sonderlinge kunstenaars soos Anna Davel, Rikku Lätti, Theuns Jordaan, Joe Niemand, Kevin Leo, Marlise Scheepers, Wanda Bam, Monica Maree en “Yoti – die Griekse Boertjie” opgelewer. Dit is ook bygewoon deur talle ander wat diep spore in Afrikaanse musiek sou trap: soos Kalla Bremer, Philip Nel, Roelof Colyn, Clinton Zerf, Andy Lubbe van Innibos-faam en sy seun Murray Lubbe. Jannie meen die ATKV het nog altyd wonderlike geleenthede aan jongmense gebied en ʼn Nuwe Baadjie sal hiermee voortgaan. Die 12 finaliste se verwerkte liedjies sal op ʼn CD onder die JNS-musiekhandelsmerk opgeneem word en deur Vonk Musiek versprei word.

“Met hierdie ʼn Nuwe Baadjie-projek sal ek baie graag iets aan Afrikaanse musiek wil teruggee, as dank vir die uitmuntende jare wat dit al deel van my lewe is,” sê Jannie. “Toe ek aan die begin van 2021 met die idee na die ATKV gegaan het, was die uitvoerende hoof, kunste, Gerrie Lemmer, dadelik vuur en vlam. My vriend Coenie de Villiers het my ook aangemoedig en gesê dit is ʼn fantastiese idee. Baie van die jonger geslag wat nog nie 35 is nie, sal waarskynlik baie van my musiek nie ken nie. Hopelik stel ek hulle met hierdie kompetisie bloot daaraan en inspireer dit hulle om gehaltemusiek in Afrikaans te maak. My wens is dat hierdie projek baie geseënd sal wees. Mag dit aan jongmense wat nog net kon droom van musiekmaak, die geleentheid bied om die kans aan te gryp, ’n reeds bestaande liedjie af te stof en ’n nuwe baadjie aan te trek. Ek sien geweldig uit na die eindresultaat.”

Besoek www.nuwebaadjie.co.za vir meer inligting.