Skip to main content

Wanneer tieners superhelde word

Vanjaar se Tienertoneelwenners spog met ’n unieke trofee. Nichola Vivier kan steeds nie glo sy het gewen nie.
Jeanne-Marie Koekemoer glo die proses van Tienertoneel was haar grootste beloning.
Merwe van Gent gaan volgende jaar drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Die Top 20 is in September aangewys en het die geleentheid gehad om aan hul werk te skaaf na gelang van terugvoering deur die ATKV-Tienertoneelmentors. Hierdie aangepaste inskrywings is deur die paneel tydens die semi-finale ronde beoordeel en die SUPER 12 het met hul laaste aangepaste weergawe geskitter tydens die finaal. Dié finaal is op die ATKV se sosialemediaplatforms uitgesaai.

Vir Merwe, wat ook as die kykerskeusewenner aangewys is, was vanjaar ’n grootse ervaring.

“Ek is so dankbaar en dis ’n ongelooflike voorreg. Ek het nou die dag vir my ouers gesê as ek vir myself in graad 8 gesê het, ‘hoor hier, jy gaan derde in Suid-Afrika wees met Tienertoneel’, sou ek dit eenvoudig nie kon glo nie.

“Ek het in gr. 8 en gr. 9 ongelooflik opgekyk na die kinders wat aan Tienertoneel deelgeneem het. Hulle was vir my soos celebrities. Ek is ook nou een van hulle.”

Praat ’n mens met hierdie drie, staan een ding soos ’n paal bo water uit. ATKV-Tienertoneel het vir ewig die trajek van hul lewe verander.

“Tienertoneel bied goeie validation om voort te gaan met drama en kuns. Dis nie ’n maklike bedryf nie en so baie mense trek jou besluit om ’n loopbaan van drama te maak in twyfel. Tienertoneel gee vir jou die geleentheid. Dit gee vir jou power”, vertel Nichola.

Jeanne-Marie glo die erkenning wat Tienertoneel gee, word “soos ’n baken op jou pad wat vir jou fluister om koers en kop bo water te hou”. “Dit moedig jou aan om alles om jou te vier en te weet jy is oukei en jy doen oukei ... Jy is meer as net oukei.”

Merwe se liefde vir toneel en Tienertoneel het sommer vroeg-vroeg begin. “My ma het my altyd Aardklop toe gevat en dan het ons die Tienertoneel gaan kyk. Ons het Tienertoneel gekyk dat dit wit sit.

“Tienertoneel was ’n groot deel van my hoërskoolloopbaan. Ek het geleer oor verhoogbestuur, hoe om kritiek te hanteer. Dit was die venster waardeur ek kon kyk hoe dinge werk. Ek is baie dankbaar.”