Skip to main content

Taalgenoot TOP 5: Alternatiewe Afrikaanse liedjies wat die hartsnare roer

Kyk ons almal weet “Baby Tjoklits” en “Jy soen my meer nie” is die allermooiste-ooiste Afrikaanse liedjies in Afrikaans*, maar wat van alternatiewe kunstenaars?

Hulle hoef beslis nie een tree terug te staan vir hul “rym met die lang y”-broers en -susters nie. Hulle is ook nie bang om die dubbel-ontkenningreël te gebruik nie.

Inteendeel, daar is vele oorwurms wat jou sommer sal laat verlang na die ou of meisie wat jy nog nooit ontmoet het nie, sonder om té soetsappig te wees.

So dalk is liefdesliedjies nie heeltemal reg nie – eerder mooi liedjies of liedjies wat die hartsnare roer. Of durf ek sê – “diep” liedjies.

Om die waarheid te sê, daar is so baie om van te kies dat daar heelwat mense sal wees wat glad nie sal saamstem nie.

Die meeste van dié liedjies is al tot vervelens toe opgeneem deur ander kunstenaars (tot ’n mate meer en minder suksesvol), dat mense moontlik al vergeet het wie dit oorspronklik gesing het.

Hier is Taalgenoot se (beperkte) keuse, want dis vrek moeilik om net vyf te noem.

In ’n mate gee dit ongelukkig seker ons ouderdomme ook weg (aangesien die fokus meer op die 1990’s en 2000’s is).

*Dis ’n grappie, mense.

Lisa se klavier (Koos Kombuis)

Koos Kombuis (André le Toit) is een van die voorbokke van die 1980’s se Voëlvrybeweging. Sy liedjies het egter nie net gegaan oor ’n bar op De Aar nie, Mandrax en ou tannies nie, sommige van hulle, soos “Lisa se klavier” en “Bicycle sonder slot” het regtig Kombuis se talent as liedjieskrywer (hy is ’n deurwinterde skrywer en digter ook) na vore gebring.

Vele albums het daarna gevolg en sy moderne protesliedjies het ook die koppe laat draai. “Lisa se klavier” het egter die luisteraar na die kamer geneem waar Lisa haar melancholiese hart uitspeel en jou laat voel of jy een word met die liedjie. Laurika Rauch se vertolking was ook mooi, The Parlotones s’n minder suksesvol.

Lirieke wat uitstaan:

Ek staan op haar balkon
Ek drink haar appelkoostee
Ek kyk na Kaapstad
In die nag
Die liggies
En die swart, swart see

Deurmekaar (Karen Zoid)

Karen Zoid het met “Poles Apart” die Suid-Afrikaanse musieklandskap op sy kop gekeer. Die meisie van Linden het duisende Afrikaanse aanhangers luidkeels laat saamskree “Babe is jy nog lief vir my” in “Afrikaners is plesierig”.

Afrikaanse tieners het ’n vroulike Afrikaanse stem gekry wie se naam hulle op hul penneblikkies en skoolsakke kon krap.

“Deurmekaar” is een van haar vele ballades wat uitstaan – en baie trane is gestort op Westlife-kussingslope (en dalk Spiderman ook) in tienerkamers.

Dit begin stadig en eindig met ’n saamsing rock-klimaks wat vir niks skrik nie. Die lirieke “het ek my beste pel verloor” het nie net die traankrane oopgedraai nie – dit het die geiser laat bars.

Lirieke wat uitstaan:

Ek het geloop
Sonder om te groet
En 
clean breaks is tien teen een goed
En ek sit hier op die lang pad
Soos soveel kere vantevoor
En iewers langs die 
highway het ek my beste pel verloor

Vier Seisoene Kind (Gian Groen)

Nog ’n liedjie wat deur verskeie Afrikaanse sangers oorgedoen is, maar Gian Groen moet die krediet vir die een kry.

’n Pragtige ode aan die vrou van wie hy sing, met ’n kragtige refrein en ’n bekfluitjie wat die liedjie ’n eg Suid-Afrikaanse gevoel gee.

En kom ons wees eerlik – enigiemand wat “palm” en “kalm” suksesvol in ’n vers kan toonset, verdien ’n prys.

Lirieke wat uitstaan:

Vier seisoene kind met die winter in jou oë
Waar het ek jou verloor?
Vier seisoene kind met die liefde in jou palm
Kyk, jou oseaan is kalm

Sonvanger (Valiant Swart)

Wie ander as Valiant Swart kan met so ’n treffer opkom? Wie ander as iemand wat die stofpaaie van die land deurkruis het met sy kitaar?

Hy het hom geskryf – hy sing hom die mooiste.

As jy op YouTube gaan kyk, het almal wat wil (of kan) sing die liedjie al ge-cover.

Met Valiant se weergawe, proe jy amper die stof en mis die son op jou skouers.

Lirieke wat uitstaan:

Kyk of jy vir my die son kan bring
Daar is ’n liedjie in die gange waar die son kan sing
Want dis stil in die hoeke in die koue seisoen
Kan jy sien wat die wind en die reën aan my doen

En die wenner is:

Hoe ek voel (Johannes Kerkorrel)

Goed ek erken, ek is dalk nie baie objektief met dié keuse nie.

Johannes Kerkorrel is die rede hoekom ek begin het om Afrikaanse musiek te luister (uit vrye wil, nie omdat die sangjuffrou my gedwing het nie).

Dit was die liedjie waarop my vrou ingestap het op ons troudag. Dis wat ek luidkeels saamsing in die verkeer.

Wie het ooit gedink dat die lirieke

As ek jou net kon laat sien
As ek jou net kon laat lees
Sou ek ’n faksmasjien gaan huur
En gedigte vir jou stuur soveel trefkrag kan hê?

Kerkorrel het Afrikaanse musiek op sy kop gedraai. Gekwes, kontroversieel, briljant. Wat ’n kunstenaar was hy nie.

Bonusliedjies (WAT VOLGENS SMAAK OOK OP DIE TOP 5 KON WEES):

Beautiful in Beaufort-Wes (Gert Vlok Nel)

Ja, dit is Gert Vlok Nel se liedjie. Jy hoor die treine. Jy voel die hoendervel. Maar hy val moontlik onder ’n ander kategorie, dalk in die liedjies oor verlies-groep. Saam met Die Briels. Maar dit is op pad.

Groen Trui – Jan Blohm

Die digter van Sunnyside en boorling van Kroonstad se megatreffer wat perfek saamloop met studentejare en rooiwyn. Want almal het ’n groen trui as student gehad. En almal het ’n lyfie gehad wat jy in ’n groen trui wou toevou.

Stem julle saam met die lys? Laat hoor van jou op ons Facebookblad.

Saamgestel deur Johan Jack Smith