Skip to main content

Boere in die Boesmanland, soos ook elders in die land, gaan tans gebuk onder ’n sewe jaar lange droogte. Volgens baie is dit die ergste droogte in dekades, en die uitwerking daarvan op boere is enorm. Sommige boere kan nie eers die mees  basiese dinge, soos toiletware, bekostig nie.  Boonop moet hulle daagliks toekyk hoe hul vee van die honger en dors vrek.

Die ATKV-tak Comienzo het besluit om boere in die Willowmore-streek by te staan in hulle tyd van nood.

“Daar is ’n groot nood onder die boere. Party plase het nege jaar laas reën gehad,” sê Abrie Erasmus, takvoorsitter.

Die tak het kragte saamgesnoer met maatskappye soos SA City Link en Eskort om droogtehulp aan die boere te verskaf.  “Daar is veevoer geskenk, en die boere kan nou weer hulle vee vir ‘n paar dae voer.”

Kospakkies en pakkies met toiletware en ander basiese benodigdhede is ook onder die boere en hulle werkers uitgedeel. Altesaam 250 kartondose vol produkte is hiervoor ingesamel.

Abrie sê dit is vir hom wonderlik om te sien hoe ’n gemeenskap kan saamstaan om hulle medemens te help. “’n Oom het my gekontak om dankie te sê vir die tandepasta wat ons vir hom gegee het. Mens besef nie hoe groot die behoefte werklik is nie, selfs aan iets so eenvoudig soos tandepasta. Deur die genade kon ons nou ‘n bietjie verligting gee aan ‘n klomp boere en hul werkers.”

Volgens Abrie is dit belangrik dat gewone mense moet help omsien na ons land se boere. “Sonder hulle sal daar nie kos in die land wees nie, en dit bedreig nie net Suid-Afrika se voedselsekerheid nie, maar kan ‘n baie negatiewe invloed hê op ons land se ekonomie aangesien dit ook invoere en uitvoere kan raak.”

Die ATKV moedig lede aan om na boere uit te reik in hierdie moeilike tye, en om saam te werk om nuwe maniere te vind om bystand in hul eie gemeenskappe te verleen.