Skip to main content

Hilde Alet Malan (33) is ’n geharde boervrou en trotse lid van die ATKV-tak Gamtoosvallei, maar haar indrukwekkende kunswerke trek aandag en het veroorsaak dat sy boerdery opgegee het en nou voltyds ’n kunstenaar is.

“Ek het vir vyf jaar lank geboer en eers halfdag geskilder, maar vir die laaste twee jaar, doen ek dit voltyds.”

Hilde se kunswerke fokus op die natuur, vrouefigure en sy het ’n voorliefde vir aalwyne en proteas.

Sy sê sy het al van kleinsaf ’n liefde vir verf en teken gehad.

“Ek was mal daaroor om te teken. Ek het van kleinsaf ’n passie vir kuns gehad en het ná skool BA Skone Kunste by die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer.”

Nadat sy haar nagraadse onderwyssertifikaat gedoen het, het sy vir twee jaar onderwys gegee en was toe die produksiebestuurder op hul familieplaas in Patensie, waar sy met komkommers in kweekhuise geboer het. “Ek het later ’n ateljee by my huis gebou en aanlyn my kuns begin verkoop. Ek het in elke tydjie wat ek kon afknyp, geverf en geteken.”

Haar kunswerke was hoog op aanvraag en sy kon nie bybly met die bestellings nie.

“My kunsbestellings het deur die dak gevlieg. Tussen 50 en 100 bestellings per maand.”

Sy het in 2019 besluit om voltyds aandag aan haar kuns te gee.

Selfs met die inperking, kon Hilde nie bybly met die bestellings nie.

“Mense was by die huis en wou hul huise mooimaak. Die bestellings het ingerol en my ateljee het te klein geword.”

Sy het begin vanjaar ’n nuwe ateljee gebou, maar kon weens die COVID-regulasies nie ’n opening hou nie.

Die bekendstelling van haar nuwe ateljee het Saterdag 13 November plaasgevind.

Hilde wil graag met haar kuns ’n boodskap oordra en mense inspireer.

“My doel met my kuns is skep om te inspireer. Ek hoop om met my kuns ’n positiewe boodskap die wêreld in te stuur, wat mense inspireer om hul drome na te streef en te mik vir die sterre.

“Die doel met die opening is ook om te vier dat drome wel waar word en dat enigiets met harde werk en passie moontlik is. Ek het my droom om ’n kunstenaar te word, verwesenlik.”

Om meer van Hilde Alet Malan se kuns te sien, klik hier vir haar webwerf of volg haar op Facebook.