Skip to main content

Ruzanne van Beulen, lid van ATKV-tak Sommer net ons, deel haar gedagtes oor die jeug se optimistiese kreatiwiteit.

Pandemie, geweld en onluste is woorde wat ons so diep as moontlik wil begrawe.  Die mens se rol is om in beheer te wees. En as ons onkant betrap word, maak dit ons angstig en kwesbaar.

Sosiale en fisiese inperking het die aanbied van gemeenskapsprojekte bemoeilik terwyl interaksie met mekaar eintlik ons manier van asemhaal is. Tog, te midde van al die onsekerheid was daar ’n vars stroom energie wat die grys voor ons visie weggeskuif het. 

Die jeug was gereed om aan te pas by die groot ommeswaai in menslike geskiedenis. Innoverend en vasbeslote het hulle die toekoms se deure wyer oopgestoot. Daar is geen beperkings op of grense vir hulle optimistiese kreatiwiteit nie.

Met die herontdekking en herskepping van myself het ek weer eens besef hoe belangrik die jeug se insae is vir suksesvolle samewerking tussen die jeug en die ouer generasie. Almal het die jeug se insae, moed en energie nodig om by die veranderde normaal aan te pas.

Ons is meer as net in staat want elkeen van ons is uniek. Ons is meer as oorwinnaars! Maar om te kan byhou, moet ons toekomsfiks wees. Daarom is dit my hartsbegeerte dat elke skool ’n ATKV-jeugtak moet hê. Want die ATKV se denke is vars ...

Jonel Kerspuy, ’n taklid van die ATKV-tak Sommer Net Ons Pacaltsdorp, het die matrikulante van Pacaltsdorp Hoërskool herinner aan hulle waarde vir Suid-Afrika. Dat hulle keuses ’n uitwerking het op die volgende generasie.

Vir al die matrikulante van 2021 wat een van die dae hulle toekomspad moet uittrap:

Mooi loop, wees dapper en gaan groot, maar wees net jouself – altyd.

– Ruzanne Van Beulen