Skip to main content

Hy is geen vreemdeling in Suid-Afrikaaanse huise nie. Vir jare het Freek Robinson in ons leefkamers gekuier as televisie-aanbieder en joernalis.

Freek, wat veral bekend is as nuusanker vir eNuus en die aanbieder van Fokus, het onlangs sy memoires, Op die man af, oor sy 45 jaar in die joernalistiek bekendgestel.

Die ATKV-tak Spandaukop het besluit om dié veteraanjoernalis te ondersteun en ’n boekbekendstelling op Graaff-Reinet by Hoër Volkskool te reël. Die boekpraatjie vind op 11 November plaas.

“Mense op die platteland is groot aanhangers van Freek. Ons almal volg hom al vir jare en beskou sy stem as kredietwaardig en onverskrokke,” sê Archie Cronjé, takvoorsitter. Volgens Archie het die tak se paaie sowat drie jaar terug met die nuusman gekruis toe hulle praatjies deur Freek gereël het.

“Ons wil iemand wat so ’n groot bydrae tot die medialandskap gemaak het, ondersteun en erkenning gee. Terselfdertyd wil ons Afrikaanse letterkunde ondersteun en ek dink baie mense gaan sy boekbekendstelling bywoon.”

Op die man af gee ’n intieme blik op die nuusman se lewe en loopbaan, en bespreek van die dramatiese gebeure in ons land se geskiedenis.

Freek het al baie goeie terugvoer gekry oor sy boek.

“Die reaksie is baie positief en die boek verkoop besonder goed,” vertel hy. “Ek hoop dat mense beplan om dit te koop vir hulle Kerskouse.”

Hy sê hy is baie dankbaar vir die ATKV se ondersteuning.

“Dit is verblydend om die ondersteuning te kry van so ’n organisasie. Dit skep ’n fantastiese platform. Ek sien uit om vir Graaff-Reinet se mense te gaan kuier.”