Skip to main content

Om iets van jou eie te hê, iets wat nét joune is, bring hoop en ’n gevoel van veiligheid in onsekere tye. Veral as jy maar nog ’n kind is. Dié wete het Tracey van Wyk, voorsitter van die ATKV-tak Kosmosrand in Secunda, aangespoor om vir kinders van Janelle-huis, ’n deurgangshuis vir kinders wat deur die SAVF bestuur word, elk hul eie kombers te gee.

“Die kinders is erg oor hulle komberse. Die heel kleintjies laat daardie kombers nie uit hul sig nie, sleep dit saam as hulle gaan bad, of sit onder die wasgoedlyn om te wag dat dit droog word na wastyd. Die groter kinders het al gesê dis die eerste keer dat hulle iets kry wat nét hulle s’n is. Nogal met hulle naam daarop,” sê Tracey.

Die omgeekomberse van vliesstof word met die betrokke kind se naam geborduur, asook die ATKV se naam en ‘omgeekombers’. “Dit is iets wat daardie kind se eie is. Wanneer die kind uitgeplaas word na pleegsorg, ’n kinderhuis of aangeneem word, gaan die kombersie saam,” sê Tracey.

Daar is tans 21 kinders wat in Janelle-huis, ’n deurgangshuis asook huis van veiligheid, vir kinders wat wees gelaat is, uit hul ouersorg verwyder moes word, en wag om in pleegsorg geplaas te word. ’n Tweede huis is onlangs opgeknap en reggemaak en binnekort sal die tieners na dié huis verskuif. Só vergroot Janelle se kapasiteit en sal hulle meer kinders in nood kan akkommodeer.

Die omgeekombersprojek is drie jaar terug begin toe Tracey besef het hoe nodig dit vir ’n kind in ’n huis soos Janelle is om iets van sy eie te hê wat hy kan saamvat wanneer hy uitgeplaas word. “Dit gee sekerheid en is ook 'n stukkie omgee en liefde van ons af wat saam gaan,” sê sy. “Ek sê altyd vir die kinders daardie kombers is nét hulle s'n, en niemand mag dit van hulle af wegvat nie.”

Behalwe die omgeekombersies gaan lede van die tak gereeld Janelle toe om met die kinders te speel en spesiale aktiwiteite saam met hulle te doen. Tracey word op datum gehou van wanneer Janelle nuwe kinders verwag, sodat sy die kombersies kan regkry en met die kind se aankoms al kan oorhandig. “Dit laat hulle veilig en tuis voel,” sê sy. Befondsing vir die projek kom uit alle oorde. “Ons is geseënd om so ’n wonderlike gemeenskap te hê wat net gee en gee uit liefde.”