Skip to main content

Om ’n boek oop te slaan en te verstaan wat die woorde vir jou sê, is vir baie kinders maar ’n droom. Volgens die PIRLS- (Progress in International Literacy Study) verslag van 2016 kan 78% van Suid-Afrikaanse graad 4-leerders nie met begrip lees nie. ’n Derde van alle ouers vertel nooit vir hul kinders stories nie en nog 50% het nog nooit vir hul kinders voorgelees nie. As jy dink dat lees die boustene vir alle leer is, dui dié syfers op ’n leeskrisis. Die Vriende van Afrikaans (’n afdeling van die ATKV) se boektrommelprojek is ’n lig in die donker vir baie wat nie toegang tot boeke het nie. Die idee van die boektrommel het gekom vanaf die VVA se vorige bestuurder, Amanda de Stadler, wat die eerste boektrommel in samewerking met Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in 2004 in die Paarl aan ’n paar skole oorhandig het. Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA sê lees is nie ’n luuksheid nie, maar ’n noodsaaklikheid. Volgens haar kan baie skole en mense nie boeke bekostig nie. Deur die boektrommelprojek bied die VVA die geleentheid dat kinders so vroeg as moontlik aan die wonder van woorde en lees blootgestel word. Navorsing toon dat kinders tussen die ouderdom van 0 en 6 jaar die heel meeste leer, teenoor wat hulle in die res van hul lewens sal leer. “Dan kan daar mos nooit te vroeg met voorlees en lees begin word nie,” sê Chareldine. Hulle wil graag sien dat eerste-, tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans toegang tot die regte boeke het en die vreugde van lees sal ervaar. Die VVA wil ook deur boeke kinders bemagtig en goeie waardesisteme aanleer. Geletterdheid en ’n liefde vir lees bevorder onafhanklike denke, leer ’n kind wat sy regte is, en maak van kinders empatiese wesens wat vir hulself kan sorg.

Om koste te bespaar, maar ook om ’n sinvolle, volhoubare impak te maak met boeke, opgeleide praktisyns en opvoeders wat agterbly om die werk voort te sit, bestaan die projek uit:

  1. Die verspreiding van boektrommelsen gepaardgaande boekopvoeding by ’n aantal kleuter- en laerskole
  2. Voorleeswerkswinkels en ’n Doen-en-Leer-demonstrasie (vir opvoeders, ouers en ander belangstellendes)
  3. Leesondersteuningsopleiding (Doen-en-Leer-leesprogram)
  4. Leeskonferensies.

Chareldine sê hulle probeer om al hierdie onderdele te ondervang wanneer hulle in ’n spesifieke gemeenskap werk, om die impak te vergroot, maar ook om koste te bespaar.

Deur die projek word ongeveer 60 boektrommels per jaar aan goedbestuurde, geregistreerde kleuterskole en grondslagfaseklasse versprei, op hierdie stadium meestal in die Wes-, Noord- en Suid-Kaap en ook in die Johannesburg-omgewing. “Ons wil volgende jaar ook fokus op die Vrystaat. Ons neem die trommels graag self en doen dan boekopvoeding en gesels met die kinders oor die waarde van lees en boeke,” sê Chareldine. Die waarde van ʼn trommel is ongeveer R8 500. Die gemiddelde aantal leerders per klas wissel tussen 40 en 60. Dit beteken dat sowat 4 000 leerders toegang tot boeke kry, wat beteken dat ongeveer 20 000 kinders oor vyf jaar bereik word. Chareldine sê hulle kry van tyd tot tyd versoeke van skole deur middel van verwysings en ATKV-takke en besluit dan so waar die nood is.

Danksy verskeie donasies, borge en vennootskappe kan die VVA jaarliks boektrommels versprei. Jy kan ook help om die wêreld van woorde vir baie kinders oop te sluit deur ’n bydrae aan die boektrommelprojek deur die ATKV se Woekerfonds te maak. Kontak gerus vir Cameron Smith by woekerfonds@atkv.org.za vir meer inligting oor die Woekerfonds.