Skip to main content

In 2021 se ATKV-DigiToneelkompetisie, het Themelios Demas weggestap met die tweede plek met sy monoloog Dis mos wat pa’s doen. Hierdie talentvolle jongman van Athlone in die Kaap skryf tans sy finale matriekeksamen aan Hoërskool Tygerberg en is blinkoog oor die toekoms wat wink. Hy vertel dat hy as ’n klein seuntjie altyd gekyk het na Disney Channel se programme en Nickelodeon was ook ’n groot gunsteling. Hy het die karaktertjies se dialoog altyd woord vir woord herhaal, en groot pret gehad. Toe het hy nooit kon dink waarheen dit hom eendag sou lei nie.

“Al het ek grootgeword met flieks en televisie, was die moontlikheid om ’n loopbaan daarvan te maak glad nie in my gedagtes nie. Ek wou veel eerder ’n krieketspeler word, en het in die laerskool nogal uitgeblink op die krieketveld. In die Hoërskool het ek uitgevind van die dramakursusse wat aangebied word, en die gogga het gebyt. Alhoewel ek presies geweet het hoe die mense toneelspeel op die televisie, ek het dit immers soos ’n papegaai nagemaak, het ek min van die verhoog en acting op die verhoog geweet. My vriende en ons drama-onderwyser, Mev. Perdita du Bois, het my gelukkig touwys gemaak. Die heel eerste keer wat my ouers na een van my verhoogoptredes kom kyk het, kon hulle meteens verstaan hoekom krieket effens moes opsy skuif vir drama want dit was ook aan hulle duidelik dat ek talent daarvoor het, en dat dit my baie gelukkig maak,” sê Themelios.

Hy lag en sê hy word soms Tim genoem wanneer iemand nie seker is hoe om sy naam uit te spreek nie, maar hy is baie trots op sy naam. As ’n mens hom vir die eerste keer raakloop, gaan jy dalk dink hy is skugter maar wanneer hy jou begin ken, maak hy oop en sal jy hom gou leer ken as iemand wat baie omgee vir sy familie en vriende. Hy hou van pret en om lekker dinge saam met sy maats te doen. Een ding is egter vir hom ononderhandelbaar en dit is die belangrikheid daarvan om altyd die waarheid te praat.

Volgende jaar hoop hy om by ’n dramagroep of akteursagentskap aan te sluit om ’n bietjie praktiese ervaring op te doen en op daardie manier meer oor die industrie te leer. Terselfdertyd hoop hy om ook by ’n dramaskool die nodige vaardighede aan te leer. Hy was aanvanklik van plan om te gaan studeer aan Stellenbosch, maar het intussen besluit dat hy eers self wil sien hoe dit in die bedryf werk voordat hy enige finale loopbaankeuses maak.

Vra jy hom oor die grootste droom wat hy koester, kom die antwoord gou: Om eendag ’n Oscar-toekenning te ontvang. “Mense sal dalk vra hoe kan ek so groot wil droom, maar die een ding wat my pa van kleins af by my ingeprent het, is dat enigiets binne jou bereik is,” sê Themelios. “My pa het natuurlik bygevoeg dat jy moet hard werk, lief wees vir wat jy doen, maar jy kan dit bewaarheid. Natuurlik sal ek ook graag hier in Suid-Afrika my merk as akteur wil maak, maar ek wil baie graag ook verder gaan en dalk eendag die geleentheid kry om met briljante akteurs soos Denzil Washington, Leonardo DiCaprio of Charlize Theron saam te werk. Onthou: geen droom kan ooit te groot wees nie.”

Hy is ook ’n talentvolle musikant wat sy eie liedjies skryf. Themelios sê hy wil nie graag as ’n rapper bekendstaan nie aangesien daar soveel stereotipering ten opsigte van hierdie kunstenaars is. Die wêreld lê wyd oop voor hom en hy en sy vriende sal graag volgende jaar wil sien waarheen hulle musiek hulle lei. Vir hom sal dit fantasties wees indien hy sy loopbaan as akteur kan kombineer met ’n musiekloopbaan.

Om die tweede plek in hierdie ATKV-DigiToneelkompetisie te verwerf, was vir hom ’n besondere groot voorreg. “Toe mev. Du Bois ons van die kompetisie vertel, het ek nooit kon droom wat die uitslag sou wees nie. Ek het dit bloot gedoen omdat ek gedink het ek sal pret hê. Tot my groot verbasing het ek uiteindelik in die top drie geëindig. Dit beteken so baie vir my en ek het weer eens besef, dit maak nie saak wat my doelwitte is nie, ek sal dit kan behaal indien ek hard werk en my hart daarop sit. Hierdie is bloot die begin en van hier af vorentoe kan daar so baie dinge gebeur. Ek is dankbaar vir almal wat my ondersteun het en ook dankbaar dat die mentorbeoordelaars my talent kon raaksien.

“Uiteindelik is daar vir my niks lekkerder as om op die verhoog te klim met ’n splinternuwe teks in die hand nie. Om myself in ’n nuwe karakter in te leef, is ’n uitdaging, maar ’n baie lekker uitdaging. Dit bring soveel vreugde om die dinge te kan doen waarvoor ek lief is!”