Skip to the content

Uittreksel: 107 Kaalkoppe deur Nataniël

Nataniël vier 20 jaar as Kaalkop-rubriekskrywer met hierdie nuwe versameling van sy gewilde SARIE-rubrieke: 107 Kaalkoppe geskryf vanaf 2012 tot 2021.

Gelawe
En weer is ons in die mooiste maand en weer is ek doodmoeg. Twee derdes deur ’n dolle jaar en ek moet van iewers af krag kry vir die res. Nog drie verhoogproduksies lê voor en alles moet met energie en opgewondenheid gebeur, dis ál hoe dit kan werk.

’n Paar dae gelede ontvang ek ’n geskenk van my vriendin Diane – ’n mooie, mooie boek met die titel ENCYCLOPEDIA OF THE EXQUISITE. Die boek bevat talle kort artikels oor die ontstaan of geskiedenis van alle bekoorlikhede wat al die wêreld verander het, van die eerste lugballon tot Antonin Carême se spierwit poeding (blancmange), tot die Kussingboek (die Japannese keiserin se sagte dagboek waarop sy elke aand haar kop neergelê het). Ek lees net twee bladsye per keer, ek wil nooit klaarmaak met hierdie boek nie. Ek sit elke nag kiertsregop in my bed en kan nie glo hoeveel wonderlike goed daar op aarde is nie – al wat ek deesdae raaksien, is vuil strate, lelike huise en ongeduldige mense.

En meteens onthou ek van die nuwe kostuum in my kas, ’n asemrowende skepping deur Floris Louw, ’n reuse-, byna outydse jas wat gemaak is van duisende swart blomme en wat van die borskas af uitklok na onder soos ’n omgekeerde tulp. Op die grond sleep tossels met swart kristalle. Ek trek dit kort-kort aan en poseer voor die spieël. Ek het vergeet, ek ís opgewonde oor die nuwe show, ek het al familie gebel om te sê dat ek eendag in hierdie ding begrawe moet word, dis die mooiste gewaad wat ek nog ooit aangehad het! 

Binne dae is my moegheid weg, ek onthou skielik alle skoonheid wat hierdie jaar my asem weggeslaan het. Ek het lanklaas ’n Kaalkoplysie die wêreld ingestuur (en hy mag spoedig verouder), maar hier is hy:
• Die Kaapse groep 3rd World Spectator het hul debuut gemaak met die album The Theory of Everything. Of jy nou van tromme en elektriese kitare hou of nie, die hoofsanger, Peter Crafford, se stem het ’n omvang wat net deur engele in sy keel gebêre kon word. Ek ken hom al vandat hy ’n kleuter was en het nooit geweet dat hy kon of wou sing nie. (Peter het intussen na New York verhuis, waar hy floreer in die advertensiewêreld van Manhattan. Ons wag nou vir sy eerste internasionale note!)

• Ek lag baie, maar selde hardop. Onlangs het ek na Marion Holm se nuutste solo-vertoning gaan kyk en só gelag dat ek nog steeds rugpyn het, maar dis ’n gesonde pyn. Elke mens lag vir iets anders, haar grappe, haar nabootsings of haar lyftaal, maar ek kan glad nie haar ongelooflike stem en die gepaardgaande volume hanteer nie – sy kan net staan en brul, ek lag soos ’n gekieliede baba. Gaan heel jouself, gaan woon ’n vertoning by wanneer Marion in jou omgewing is, dis plesier sonder genade.

• Net so gesond soos lag is huil of bewe. Ek het onlangs die rolprent Lost City op DVD raakgeloop. Andy García moes ’n groot deel van sy lewe en loopbaan spandeer om hierdie droom te laat gebeur. Hy speel die hoofrol, is die regisseur en maak die musiek. Die openingstoneel is só mooi, ek gaan nou nóg ’n huis koop en dit verander in ’n Kubaanse paleis. (Jare later sou Antonio Banderas se Pain and Glory dieselfde effek op my hê.)

• En dan, Corlea! Ek het geweet van haar: sy sing, het baklei met ’n outjie, haar haarstyl verander en gewig verloor. Maar ek het haar nog nooit hoor sing nie. Tydens ’n repetisie vir ’n SARIE-funksie staan sy op die verhoog en sing Patti Austin se moeilikste liedjie sonder inspanning. My bek hang oop. Ek het haar dadelik gaan vra om volgende jaar saam met my te sing. Nou wag ek. In my Floris Louw-skepping. (Corlea het toe ingestem en ons het reeds verskeie produksies en opnames saam gedoen.)

Hoendervel, rugpyn, lag, trane en dagdroom, dis alles simptome van bekoring. En bekoring is hier, tussen ons.
(Oktober 2012)

Hierdie boek is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels of by NB-uitgewers.