Skip to main content

Dit is weer daardie tyd van die jaar – die ATKV vier skrywers, digters en dramaturge se uitsonderlike pennevrugte, toewyding en kreatiwiteit. Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord.

Die kategorie vir die Prys vir Liefdesroman se beoordelaars was Malene Breytenbach, Cliffordene Norton en Ilse Salzwedel. Die wenner in hierdie kategorie is Heimwee – Sophia Kapp (Boekdiva Uitgewers).

Carol-Ann Alexander, Amanda Claasens en Kobie van Aswegen, kon kies en keur uit inskrywings en die Prys vir Romanses word vanjaar aan ’n Ultimatum vir liefde – Corné van Rooyen (Romanza) toegeken.

Die beoordelaars vir die Prys vir Poësie was Diana Ferrus, Bernard Odendaal en Christo van der Westhuizen. Die wenner in hierdie kategorie is Plunder – Antjie Krog (Human & Rousseau).

Drama gee lewe aan die letterkunde, en vanjaar se dramatekste is beoordeel deur Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Wim Vorster. Die wenner van die Prys vir Dramateks is vanjaar Die halwe huis – Ricardo Arendse.

Die ATKV-Woordwystoekenning word toegeken aan ’n verdienstelike woordeboek of taalgids waarin Afrikaans verteenwoordig word.

Die beoordelaarspaneel vir vanjaar se Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse was Rufus Gouws, Ernst Kotzé en Gerhard van Huyssteen.

Die beoordelaars het eenparig besluit dat die woordeboek, N|uuki Namagowab, Afrikaans, English Woordeboek / Dictionary (2022), met Bonny Sands en Kerry Jones as hoofredakteurs, vanjaar met die ATKV-Woordwystoekenning bekroon word. Hierdie woordeboek is saamgestel deur African Tongue en geproduseer deur African Sun Media.

In die kategorie: Prys vir Spanningslektuur, een van die vinnig groeiendste en gewildste genres in Afrikaans, was die beoordelaars Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen. Die wenner is Die verkeerde vrou – Irma Venter (Tafelberg).

Die Prys vir Niefiksie se beoordelaarspaneel het bestaan uit Jean Meiring, Herman Wasserman en Bettina Wyngaard. Die wenner in hierdie kategorie is Die Kaapse slawe, 1652-1838 – Eunice Visser (Protea Boekhuis).

Die ATKV-Prosaprys is een van die oudste en mees gerespekteerde letterkundepryse in Afrikaans. Dit word reeds sedert 1984 toegeken aan die skrywer van die beste gewilde prosa wat in die voorafgaande jaar verskyn het.

Vanjaar se beoordelaars vir die ATKV-Prosaprys was Francois Bekker, Marni Bonthuys en Riana Scheepers. Die wenner in hierdie kategorie is Op pad na Moormansgat – Chris Karsten (Human & Rousseau).

Die ATKV-Kinderboektoekennings word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het, te bekroon.

Die beoordelaars is jong lesers self – iets wat hierdie toekennings van ander onderskei. 

Die ATKV-Kinderboektoekennings is daarop gerig om kinders te laat lees en om leesbevordering aan te moedig. Terselfdertyd word erkenning verleen aan skrywers, uitgewers en illustreerders vir hul toegewyde werk.

Jong lesers se keuses vir die beste kinder- en jeugboeke van die jaar is soos volg:

Voorleeskategorie: Graad RR tot 1

  • Skrywer: Zuléka Smit (LUCA) – Ben gaan skool toe
  • Illustreerder: Johann Strauss (LUCA) – Ben gaan skool toe

Selfleeskategorie: Graad 2 tot 3

  • Skrywer: Cecilia Steyn (Human & Rousseau) – Die dodelikste donuts in die heelal
  • Illustreerder: Johann Strauss (Human & Rousseau) – Die dodelikste donuts in die heelal

Selfleeskategorie: Graad 4 tot 5

  • Skrywer: De Wet Hugo (Human & Rousseau) – Die holderstebolder hondepartytjie: Kinkels en keuses #1
  • Illustreerder: Stephen Wallace (Human & Rousseau) – Die holderstebolder hondepartytjie: Kinkels en keuses #1

Selfleeskategorie: Graad 6 tot 7

  • Skrywer: Jaco Jacobs (Pan Macmillan SA) – Tekkies

Selfleeskategorie: Graad 8 tot 10

  • Skrywer: An-Mari do Carmo (LUCA) – Toe als groen was

Vanjaar gaan die ATKV se toekenning vir leesbevordering aan die Loxion Mobile Library in Vrygrond, een van die armste gemeenskappe op die Kaapse Vlakte.

Die Loxion Mobile Library, ook bekend as die kinders se boekmasjien, is in 2020 in Vrygrond gestig tydens die Covid-19-pandemie, toe kinders tuis moes bly as gevolg van die inperking.

Die stigter en projekbestuurder van dié mobiele biblioteek, die 22-jarige Litha Sam-sam, het die behoefte raakgesien om die geestesgesondheid en welstand van die kinders in die gemeenskap te bevorder. Hy het besluit om dit te bewerkstellig deur hul woordeskat, geletterdheid- en lewensvaardighede te verbeter, asook deur ’n liefde vir lees by hulle te ontwikkel.

Litha sê, “Ons wil ons gemeenskappe sien floreer en gelyke geleenthede vir welvaart vir almal skep. Die kwesbaarste gemeenskappe word dikwels vergeet en het min of niks waarop hulle kan floreer nie. Ons wil dit verander en ons gemeenskappe op ’n lewensvatbare wyse beïnvloed. Nelson Mandela het gesê: ‘Opvoeding is die magtigste wapen waarmee jy die wêreld kan verander’.”

Hartlik geluk aan al die 2023-wenners.